Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 7:1-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. En nou, broers en susters – ek praat immers met mense wat die wet ken – julle weet tog dat die wet net van toepassing is op mense solank hulle lewe.

2. Byvoorbeeld: As ’n vrou met ’n man trou, bind die wet haar aan haar eggenoot vir so lank as wat hy lewe. Maar as hy te sterwe kom, is die huwelikswet nie meer op haar van toepassing nie.

3. As sy dus, terwyl haar man nog lewe, met ’n ander man trou, pleeg sy egbreuk. Maar as haar man te sterwe kom, is sy vrygestel van die huwelikswet en pleeg sy nie egbreuk as sy hertrou nie.

4. My punt, my broers en susters, is die volgende: Julle staan ook nie langer onder die mag van die wet nie. Die wet het tog beheer oor julle verloor toe julle saam met Christus gesterf het. En nou behoort julle aan Iemand anders, aan Hom wat uit die dood opgewek is sodat julle goeie vrug vir God kan voortbring.

5. Toe ons nog in die mag van ons sondige natuur was, was die sondige drifte wat deur die wet aangewakker is, oral in ons liggame werksaam en die resultaat daarvan was die dood.

6. Maar nou is ons vrygestel van die binding van die wet omdat ons saam met Christus gesterf het. Daarom kan ons God nou dien met die nuutheid wat die Gees bring, nie op die ou manier van gehoorsaamheid aan die letter van die wet nie.

7. Suggereer ek daarmee dat die wet van Moses sondig is? Hoegenaamd nie! Inteendeel, dit was juis die wet wat my van sonde bewus gemaak het. Ek sou byvoorbeeld nooit besef het wat sondige begeerte is as die wet nie gesê het: “Jy mag nie begeer nie.”

8. Sonde is deur hierdie gebod gestimuleer en het allerlei sondige begeertes in my aan die gang gesit. Sonder die wet sou die sonde nie daardie vermoë gehad het nie.

9. Ek het destyds heel goed gevoel toe ek nog nie verstaan het wat die wet van my verwag nie. Maar toe die betekenis van die gebod tot my deurdring, het die sonde vir my ’n lewende werklikheid geword,

Lees volledige hoofstuk Romeine 7