Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 4:12-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

12. En hy het ook die geestelike voorvader geword van hulle wat besny is, maar net as hulle dieselfde soort geloof het as wat ons vader Abraham gehad het voordat hy besny is.

13. Dit is dus duidelik dat God se belofte om die hele wêreld aan Abraham en sy nasate te gee nie berus het op wetsgehoorsaamheid nie, maar op die nuwe verhouding wat tot stand kom deur die vryspraak deurdat iemand glo.

14. As jy dus beweer dat mense die wêreld as erfdeel sou kon verkry op grond van wetsgehoorsaamheid, het die geloof betekenisloos geword en het die belofte sy krag verloor.

15. Wetsgehoorsaamheid bring juis straf mee – die enigste manier om wetsverbreking te voorkom is om geen wet te hê nie!

16. Die geloof is dus die sleutel! God se belofte word as ’n genadegeskenk gegee en ons as sy nageslag sal dit baie beslis ontvang – nie net dié wat die wet ontvang het nie, maar almal wat deel in Abraham se geloof. Want Abraham is die vader van ons almal wat glo.

17. Dit is wat die Skrif bedoel het met die woorde: “Ek het jou die stamvader van baie volke gemaak.” By die God in wie Abraham geglo het, was dié belofte reeds as’t ware ’n werklikheid – Hy is immers ’n God wat dooies lewendig maak en deur sy roepstem dinge wat nog nie bestaan nie, aanspreek asof hulle reeds werklikheid is.

18. Teen alle hoop in het Abraham met vaste hoop geglo dat hy nog die stamvader van baie volke sou word op grond van God se belofte: “Jou nageslag sal so baie wees soos die sterre aan die hemel.”

19. En Abraham se geloof het nie verswak nie, al het hy baie goed besef dat sy eie liggaamlike vermoëns alreeds gedaan was – hy was al omtrent 100 jaar oud – en dat sy vrou Sara nie meer kinders kon hê nie.

20. Abraham het nie getwyfel aan God se belofte nie; inteendeel, sy geloof het sterker geword en so het hy die eer aan God gegee.

21. Hy was absoluut daarvan oortuig dat God enigiets kon doen wat Hy beloof het.

Lees volledige hoofstuk Romeine 4