Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 2:9-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

9. Ek ken jou swaarkry en jou armoede, maar tog is jy ryk. Ek weet ook van die leuentaal van dié wat sê dat hulle Jode is en dit nie regtig is nie, maar eintlik deel is van die sinagoge van Satan.

10. Hou op om bang te wees vir wat jy nog gaan ly. Kyk, die duiwel gaan sommige uit julle geledere in die tronk sit om julle regtig te toets. Julle sal ook swaarkry, vir tien dae lank. Wees net getrou tot die dood toe, en Ek sal aan jou die kroon van die lewe gee.

11. Elkeen wat kan hoor, moet luister wat die Gees aan die gemeentes sê.Elkeen wat aanhou oorwin, sal nié deur die tweede dood getref word nie.

12. Skryf aan die voorganger van die gemeente in Pergamum: So sê Hy wat die skerp swaard met die twee snykante het:

13. Ek weet goed waar jy woon, waar die troon van Satan is. Tog het jy lojaal aan My gebly en nie die vertroue in My afgesweer nie, veral gedurende die tyd toe Antipas, my betroubare getuie daar by julle waar Satan woon, doodgemaak is.

14. Maar Ek het ’n paar klagtes teen jou: Jy verdra mense in jou midde wat die leer van Bileam aanhang. Dit is hy wat Balak beïnvloed het om ’n struikelblok in die pad van die Israeliete te plaas, naamlik om te eet van die afgodsoffervleis en om seksuele sondes te pleeg.

15. Net so is daar in jou geledere ook aanhangers van die leer van die Nikolaïete wat ook só optree.

16. Kom dan tot inkeer; anders kom Ek baie gou na jou toe en sal Ek teen hulle oorlog maak met die skerp swaard van my mond.

17. Elkeen wat kan hoor, moet luister wat die Gees aan die gemeentes sê.Aan elkeen wat aanhou oorwin, sal Ek van die weggesteekte manna gee, asook ’n wit steentjie met ’n nuwe naam op gegraveer wat niemand anders ken nie behalwe die een wat dit ontvang het.

18. Skryf aan die voorganger van die gemeente in Tiatira: So sê die Seun van God; Hy het oë soos ’n vuurvlam en sy voete is net soos gepoleerde koper:

19. Ek ken jou handel en wandel, ook jou liefde, vertroue, bediening en volharding. Ek weet ook dat jou handel en wandel nou selfs nog beter is as voorheen.

20. Maar Ek het hierdie klag teen jou: dat jy die vrou Isebel laat begaan. Sy noem haarself ’n profetes. Sy onderrig en verlei my diensknegte om seksuele sondes te doen en om afgodsoffervleis te eet.

21. Ek het haar ’n bepaalde tyd gegun om tot inkeer te kom, maar sy weier om haar te bekeer van haar seksuele sondes.

22. Kyk, Ek pen haar op ’n siekbed vas, en die mense wat saam met haar aan seksuele wanpraktyke deelneem, gee Ek oor aan hewige swaarkry as hulle hulle nie van haar praktyke bekeer nie.

Lees volledige hoofstuk Openbaring 2