Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 2:4-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

4. Maar Ek het hierdie klag teen jou: dat jy jou eerste liefde versaak het.

5. Dink terug aan hoe ver jy uitgesak het en kom tot inkeer, en doen weer wat jy aan die heel begin gedoen het. Anders kom Ek na jou toe en sal Ek jou kandelaar van sy staanplek af verwyder, as jy nie tot inkeer kom nie.

6. Maar daar is tog iets wat jy bly handhaaf het: Jy haat wat die Nikolaïete doen, net soos Ek dit ook haat.

7. Elkeen wat kan hoor, moet luister wat die Gees aan die gemeentes sê.Elkeen wat aanhou oorwin, sal Ek laat eet van die boom van die lewe wat in die paradys van God staan.

8. Skryf aan die voorganger van die gemeente in Smirna: Só sê Hy wat die Eerste en die Laaste is, wat dood was, en weer lewe:

9. Ek ken jou swaarkry en jou armoede, maar tog is jy ryk. Ek weet ook van die leuentaal van dié wat sê dat hulle Jode is en dit nie regtig is nie, maar eintlik deel is van die sinagoge van Satan.

10. Hou op om bang te wees vir wat jy nog gaan ly. Kyk, die duiwel gaan sommige uit julle geledere in die tronk sit om julle regtig te toets. Julle sal ook swaarkry, vir tien dae lank. Wees net getrou tot die dood toe, en Ek sal aan jou die kroon van die lewe gee.

11. Elkeen wat kan hoor, moet luister wat die Gees aan die gemeentes sê.Elkeen wat aanhou oorwin, sal nié deur die tweede dood getref word nie.

12. Skryf aan die voorganger van die gemeente in Pergamum: So sê Hy wat die skerp swaard met die twee snykante het:

13. Ek weet goed waar jy woon, waar die troon van Satan is. Tog het jy lojaal aan My gebly en nie die vertroue in My afgesweer nie, veral gedurende die tyd toe Antipas, my betroubare getuie daar by julle waar Satan woon, doodgemaak is.

14. Maar Ek het ’n paar klagtes teen jou: Jy verdra mense in jou midde wat die leer van Bileam aanhang. Dit is hy wat Balak beïnvloed het om ’n struikelblok in die pad van die Israeliete te plaas, naamlik om te eet van die afgodsoffervleis en om seksuele sondes te pleeg.

15. Net so is daar in jou geledere ook aanhangers van die leer van die Nikolaïete wat ook só optree.

Lees volledige hoofstuk Openbaring 2