Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 1:1-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Dit is ’n openbaring wat van Jesus Christus af kom. God het dit aan Hom gegee om aan sy diensknegte bekend te maak wat binnekort moet gebeur. Hy het dit toe aan sy dienskneg Johannes gegee deur sy engel na hom toe te stuur.

2. Johannes het getuienis gelewer van alles wat hy gesien het: wat God gesê het en wat Jesus getuig het.

3. Geseënd is dié een wat die woorde van dié profesie lees, asook dié wat dit hoor en gehoorsaam wat daarin geskryf staan, want die tyd van beslissing is naby.

4. Hierdie brief kom van Johannes en is gerig aan die sewe gemeentes wat in die provinsie Asië geleë is. Genade en vrede aan julle, van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is;

5. en van Jesus Christus, die betroubare getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het en wat heers oor die konings van die aarde.Aan Hom wat ons liefhet en ons deur sy bloed van ons sondes verlos het,

6. en ons laat deel in sy koninklike regering, aan Hom wat ons priesters vir God,sy Vader gemaak het, aan Hom behoort die heerlikheid en die krag vir ewig en altyd. Amen.

7. Kyk, Hy kom met die wolke! Elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deurboor het; al die nasies op aarde sal jammerlik oor Hom huil. Ja, amen!

8. “Ek is die Alfa en die Omega,” sê die Here God, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.

9. Ek is Johannes, julle medegelowige. Deur ons hegte verhouding met Jesus deel ons saam in die swaarkry, maar ook in sy heerskappy en in die volharding. Dit het gebeur dat ek op die eiland Patmos beland het omdat ek die boodskap van God en die getuienis wat deur Jesus gelewer is, gepreek het.

10. Op die Dag van die Here was ek in die greep van die Gees en het reg agter my ’n harde stem, soos ’n trompet, hoor

11. sê: “Skryf wat jy sien in ’n boekrol neer en stuur dit aan die sewe gemeentes: na Efese, Smirna, Pergamum, Tiatira, Sardis, Filadelfia en Laodisea.”

12. Ek het toe omgedraai om te sien wie se stem dit is wat met my praat. Nadat ek omgedraai het, het ek sewe goue kandelare gesien

13. en in die middel van die kandelare Iemand soos die Seun van die Mens. Hy het ’n kleed aangehad wat tot op sy voete gehang het en ’n goue band was om sy bors vasgemaak.

14. Sy kop en sy hare was wit soos wol, so wit soos sneeu, en sy oë soos ’n vuurvlam.

15. Sy voete was soos gepoleerde koper wat in ’n smeltoond gloei en sy stem soos die geluid van baie waterstrome.

16. In sy regterhand het Hy sewe sterre vasgehou en uit sy mond het ’n skerp swaard met twee snykante gekom. Sy gesig het helder geskyn soos die son in al sy felheid.

Lees volledige hoofstuk Openbaring 1