Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 5:5-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

5. Gelukkig is dié wat sag van hart is,want die nuwe aarde sal hulle erfporsie wees.

6. Gelukkig is dié wat honger en dors na wat voor God reg is,want Hy sal hulle hartsverlange bevredig.

7. Gelukkig is dié wat met ontferming uitreik na mense in nood, want God sal Hom oor húlle ontferm.

8. Gelukkig is dié wie se hartevolkome op God gerig is, want hulle sal vir God sien.

9. Gelukkig is die vredemakers, want God sal vir hulle sê: ‘Julle is mý kinders.’

10. Gelukkig is dié wat vervolg wordter wille van wat voor God reg is, want die koninkryk van die hemele is húlle deel.

11. “Gelukkig is julle wanneer julle bespot en vervolg word en allerhande leuens oor julle versprei word omdat julle my dissipels is.

12. Wees bly, ja, jubel daaroor, want God sal julle ryklik daarvoor beloon. Onthou, so het hulle die profete voor julle ook vervolg.”

13. “Julle is die sout wat die aarde ’n beter plek moet maak. Maar as die sout verslaan het, kry jy dit op geen manier weer sout nie. Dit is totaal onbruikbaar. Al waarvoor dit goed is, is om buite op die straat uitgegooi en deur die mense platgetrap te word.

14. Julle is die lig wat die wêreld moet verlig. ’n Stad wat bo-op ’n berg lê, kan mos nie weggesteek word nie!

15. ’n Mens steek ook nie ’n lamp op en maak dit onder ’n emmer toe nie. Inteendeel! Jy sit dit bo-op ’n lampstaander. Dan maak dit lig vir almal in die huis.

16. Julle moet so voorbeeldig lewe dat julle ’n helder lig sal laat uitstraal. Dan sal die mense dit sien en julle hemelse Vader daarvoor prys!”

17. “Julle moenie die rede vir my koms misverstaan nie. Ek het nie gekom om ’n streep deur die wet of die profete te trek nie. Ek het gekom om die ware bedoeling van God se wet te laat uitkom.

18. Ek verseker julle, al sou die hemel en aarde ophou bestaan, sal die wet definitief tot in sy fynste detail geldig bly totdat God se bedoeling daarmee bereik is.

19. “As jy dus die kleinste van God se opdragte opsy sou skuif en ander leer om dit ook te doen, sal jy die kleinste wees in God se koninkryk. Maar as jy God se wet tot in sy kleinste detail respekteer en gehoorsaam, sal jy groot wees in sy koninkryk.

20. “Want Ek sê vir julle, as julle nie die skrifkenners en die Fariseërs oortref in hoe julle God se wil uitleef nie, sal julle beslis nie toegelaat word in sy koninkryk nie.”

21. “Julle het gehoor dat vir ons voorouers gesê is: ‘Jy mag nie moord pleeg nie. As jy moord pleeg, sal jy voor die regbank rekenskap moet gee.’

22. Maar Ek sê vir julle, elkeen wat vir sy medemens kwaad bly, sal al klaar voor die regbank moet verantwoording doen. As jy vir iemand sê ‘jou gek’, sal jy jou voor die hoogste regbank moet verantwoord. En as jy vir iemand sê ‘jou onnosel’, sal jy jou in die hel moet verantwoord.

23. “As jy dus jou offer na die altaar toe bring en dit val jou daar by dat jou medemens ’n grief teen jou koester,

24. los jou offer net daar voor die altaar en gaan maak eers vrede met daardie persoon. Kom dan terug en bring jou offer.

25. “Sorg dat jy baie gou op goeie voet met jou teenstander kom; anders gaan daardie persoon jou aan die regter oorhandig, en die regter oorhandig jou aan die hofbeampte en jy word in die tronk gegooi.

Lees volledige hoofstuk Matteus 5