Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 4:13-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

13. Hy sê toe vir hulle: “As julle nie hierdie gelykenis verstaan nie, hoe sal julle al die ander begryp wat Ek vir julle gaan vertel?

14. Die boer waarvan Ek julle vertel het, is die een wat die saad van die woord uitstrooi.

15. Hulle by wie die saad op die voetpaadjie val, staan vir die mense wat die woord hoor, maar dan kom Satan dadelik en vat die woord wat op hulle lewens gesaai is, weg.

16. En hulle by wie op klipperige grond gesaai is, staan vir die mense wat die woord hoor en dit dadelik vol blydskap aanneem.

17. Maar soos dit met jong plantjies in sulke grond gaan, skiet hulle nie diep wortel nie. Hulle hou net vir ’n rukkie. Sodra daar probleme of vervolging ter wille van die Goeie Nuus kom, struikel hulle dadelik in die geloof.

18. Daardie mense by wie tussen die dorings gesaai is, staan vir die mense wat die woord hoor,

19. maar die bekommernisse van hierdie lewe en die lokstem van die rykdom en die hunkering na allerhande goed verstik gou die woord, en dit bly sonder vrug.

20. Maar hulle by wie op die goeie grond gesaai is, is die mense wat die woord hoor en dit aanneem en ’n groot oes oplewer – party 30, party 60, party selfs 100 maal wat oorspronklik gesaai is.”

21. Jesus het vir hulle gesê: “’n Lamp is tog sekerlik nie bedoel om onder ’n emmer of onder ’n bed gesit te word nie. Dis mos bedoel om op ’n lampstaander gesit te word waar dit sy lig kan versprei.

22. “Alles wat nou geheim is, sal bekendgemaak word. Alles wat nou verborge is, sal aan die lig kom.

23. Elkeen wat kan hoor, moet goed luister na wat Ek sê.”

24. Hy het ook vir hulle gesê: “Maak seker dat julle goed aandag gee aan wat julle van My hoor. Hoe meer julle luister, hoe meer sal julle verstaan – en julle sal boonop nog meer ontvang.

25. Wie hulle oopstel vir my onderrig – vir hulle sal nog meer gegee word. Maar wie dit nie doen nie – van hulle sal selfs die bietjie wat hulle het, ook nog weggeneem word.”

26. Jesus het ook gesê: “God se koningsheerskappy is soos ’n boer wat saad op sy land saai.

27. Dan gaan hy voort met sy ander daaglikse aktiwiteite. Intussen ontkiem en groei die saad – hoe, weet hy self nie mooi nie.

Lees volledige hoofstuk Markus 4