Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 3:3-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

3. Hy sê toe vir die man met die misvormde hand: “Kom staan hier in die middel.”

4. Daarna sê Hy vir sy teenstanders: “Mag ’n mens goeddoen op die Sabbat of kwaad? Is hierdie dag bedoel om ’n lewe te red of te vernietig?” Maar hulle wou Hom nie antwoord nie.

5. Terwyl hulle so rondom Hom staan, het Hy hulle die een na die ander met verontwaardiging aangekyk, diep bedroef oor die gevoelloosheid van hulle harte. Toe sê Hy vir die man: “Steek uit jou hand.” Hy het dit uitgesteek, en sy hand het gesond geword.

6. Dadelik het die Fariseërs uitgegaan en saam met Herodes se ondersteuners gaan beplan hoe hulle Jesus gaan doodmaak.

7. Jesus het saam met sy dissipels na die see toe gegaan. ’n Groot skare het agter Hom aangekom – van Galilea, Judea,

8. Jerusalem, Idumea, oorkant die Jordaan, en selfs van so ver as Tirus en Sidon. Die nuus van wat Hy gedoen het, het wyd versprei en ’n groot menigte mense het na Hom toe gekom.

9. Jesus het aan sy dissipels opdrag gegee om ’n bootjie vir Hom gereed te hou om te voorkom dat die skare Hom vertrap.

10. Hy het daardie dag baie mense gesond gemaak met die gevolg dat almal met die een of ander kwaal Hom oorval het sodat hulle aan Hom kon raak.

11. Telkens wanneer dié wat van onrein geeste besete was Hom sien, het hulle voor Hom neergeval en geskree: “Jy is die Seun van God!”

12. Maar Jesus het hulle streng gewaarsku om nie te sê wie Hy is nie.

13. Hierna het Jesus teen ’n berg opgegaan en dié na Hom toe geroep wat Hy by Hom wou hê. En hulle het na Hom toe gekom.

14. Hy het twaalf gekies om gereeld by Hom te wees en hulle apostels genoem. Hy wou hulle stuur om te gaan preek,

15. en om met volmag duiwels uit te dryf.

16. Hier volg die name van die twaalf wat Hy gekies het: Simon (Jesus het sy naam verander na Petrus),

17. Jakobus en Johannes (die seuns van Sebedeus, maar Jesus het hulle die bynaam “Seuns van die Donder” gegee),

18. Andreas, Filippus, Bartolomeus, Matteus, Tomas, Jakobus (die seun van Alfeus), Taddeus, Simon (die Yweraar),

19. Judas Iskariot (wat Hom later uitgelewer het).

20. Toe Jesus huis toe gaan, het daar weer ’n skare saamgedrom sodat Hy en sy dissipels nie eers meer tyd kon kry om te eet nie.

Lees volledige hoofstuk Markus 3