Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 12:1-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Toe het Jesus vir hulle begin gelykenisse vertel: Daar was ’n man wat ’n wingerd geplant het. Hy het ’n klipmuur daar rondom gebou, ’n parskuip uitgekap en ’n uitkyktoring opgerig. Toe het hy die wingerd aan boere verhuur en na die buiteland vertrek.

2. Met oestyd het hy ’n slaaf na die boere toe gestuur om ’n deel van die druiwe-oes te gaan haal.

3. Maar hulle het hom gegryp en geslaan en met leë hande teruggestuur.

4. Die eienaar het toe nog ’n slaaf gestuur, maar hulle het dié oor die kop geslaan en beledig.

5. Die volgende een het hulle doodgemaak. Hy het nog baie ander gestuur – sommige het hulle geslaan en ander vermoor.

6. Uiteindelik was daar nog net een persoon oor – sy seun vir wie hy innig lief was. Einde ten laaste stuur hy hom na hulle toe met die gedagte: “Hulle sal tog sekerlik my seun spaar.”

7. Maar toe sê daardie boere vir mekaar: “Hy is mos die erfgenaam. Kom ons maak hom dood, dan is die erfdeel ons s’n.”

8. Hulle het hom doodgemaak en sy liggaam buitekant die wingerd weggegooi.

9. “Wat dink julle sal die eienaar van die wingerd doen?” vra Jesus. “Ek sal vir julle sê: Hy sal kom en hulle om die lewe bring en die wingerd aan ander mense verhuur.

10. Julle het tog sekerlik al in die Skrif gelees: ‘Juis daardie klip wat die bouers afgekeur het,Hý het die hoekklip van die gebou geword.

11. Dit is die Here wat dit gedoen heten dit is vir ons wonderlik!’”

12. Die Joodse leiers wou Jesus toe arresteer, want hulle het besef dat Hy hierdie gelykenis op hulle gemik het. Maar hulle was lugtig vir die skare en het Hom toe daar gelaat en weggegaan.

13. Die leiers het ’n aantal Fariseërs en ondersteuners van Herodes gestuur om Jesus in ’n strik te laat trap.

14. Hulle kom vra Hom toe: “Leermeester, ons weet hoe absoluut eerlik u is. U ontsien niemand nie, want u word nie beïnvloed deur mense se belangrikheid nie. Inteendeel, u leer mense wat God van ons verwag sonder om doekies om te draai. Sê nou vir ons: Is dit reg om aan die keiser belasting te betaal of nie? Moet ons betaal of nie?”

15. Jesus het egter deur hulle onderduimsheid gesien en sê vir hulle: “Hoekom probeer julle My uitvang? Bring vir My ’n Romeinse muntstuk dat Ek daarna kan kyk.”

16. Toe hulle dit vir Hom bring, vra Hy vir hulle: “Wie se kop en titel is hierop afgedruk?” Hulle het Jesus geantwoord: “Die keiser s’n.”

Lees volledige hoofstuk Markus 12