Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 1:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Hier begin die Goeie Nuus aangaande Jesus Christus, die Seun van God.

2. In die boek van die profeet Jesaja staan geskryf:“Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit.Hy sal die pad vir jou regmaak.

3. Hy is ’n stem wat uitroepin die woestyn:‘Kry die Here se pad gereed.Maak vir Hom ’n hoofweg.’”

4. Hierdie boodskapper was Johannes die Doper. Hy het in die woestyn opgetree en gepreek dat die mense hulle moes laat doop as teken dat hulle tot inkeer gekom het en so vergifnis van sonde ontvang het.

5. Skares mense van Jerusalem en van oor die hele Judea het na Johannes toe gekom, en nadat hulle hulle sondes bely het, het hy hulle in die Jordaanrivier gedoop.

6. Johannes se klere was van kameelhaar en hy het ’n leerbelt om sy middel gedra. Hy het van sprinkane en veldheuning gelewe.

7. Hy het aangekondig: “Daar kom Iemand ná my wat belangriker is as ek – soveel belangriker dat ek nie eers werd is om soos ’n slaaf te buk en sy sandale los te maak nie.

8. Ek het julle met water gedoop, maar Hy sal julle met die Heilige Gees doop.”

9. Ongeveer daardie tyd het Jesus van Nasaret in Galilea af gekom en is Hy deur Johannes in die Jordaanrivier gedoop.

10. Dadelik toe Jesus uit die water opstaan, sien Hy hoe die hemel oopgaan en die Heilige Gees soos ’n duif na Hom toe afkom.

11. En ’n stem uit die hemel het gesê: “Jy is my geliefde Seun. Jy is ’n kind so na my hart.”

Lees volledige hoofstuk Markus 1