Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 8:36-50 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

36. Toe het die mense wat gesien het wat gebeur het, die ander vertel hoe die duiwelbesete man genees is.

37. En al die mense in daardie omgewing het Jesus gesmeek om weg te gaan en hulle uit te los, want groot vrees het hulle beetgepak.Jesus het toe in die skuit geklim en na die oorkant van die meer teruggekeer.

38. Die man wat van duiwels besete was, het gesoebat om ook saam te gaan, maar Jesus het gesê:

39. “Nee, gaan terug na jou familie toe en vertel vir hulle al die wonderlike dinge wat God vir jou gedoen het.” Hy het toe deur die hele dorp loop en vertel watter groot ding Jesus vir hom gedoen het.

40. By sy terugkeer het die skares Jesus met ope arms ontvang omdat hulle vir Hom gewag het.

41. ’n Man met die naam Jaïrus, ’n leier van die plaaslike sinagoge, het gekom en voor Jesus se voete neergeval en Hom gesoebat om saam met hom na sy huis te gaan.

42. Sy enigste kind, ’n dogter van twaalf, was sterwend.Terwyl Jesus saam met hom gegaan het, is Hy deur skares omring.

43. Daar was ’n vrou in die skare wat twaalf jaar lank aan chroniese bloeding gely het. Sy het alles wat sy gehad het, aan dokters bestee, maar kon nie genees word nie.

44. Sy het van agter na Jesus gekom en die soom van sy kleed aangeraak. Onmiddellik het die bloeding gestop.

45. “Wie het My aangeraak?” het Jesus gevra.Almal het dit ontken, en Petrus het gesê: “Meneer, die hele skare stoot en druk voortdurend teen U.”

46. Maar Jesus het vir hom gesê: “Nee, iemand het My opsetlik aangeraak, want Ek het genesende krag uit My voel vloei.”

47. Toe die vrou besef dat Jesus weet, het sy begin bewe en op haar knieë voor Hom neergeval. Die hele skare het haar hoor vertel waarom sy Hom aangeraak het en hoe sy onmiddellik gesond geword het.

48. “Dogter,” het Hy vir haar gesê, “jou geloof het jou genees. Gaan in vrede.”

49. Terwyl Hy nog met haar praat, het ’n boodskapper van Jaïrus se huis af gekom met die nuus: “Jou dogter is dood. Dis nie meer nodig om die Leermeester te pla nie.”

50. Maar toe Jesus hoor wat gebeur het, sê Hy vir Jaïrus: “Moenie jou ontstel nie. Vertrou My net en dit sal goed gaan met haar.”

Lees volledige hoofstuk Lukas 8