Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 8:13-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

13. “Die klipperige grond is mense wat die boodskap met blydskap aanhoor. Maar soos jong plantjies in sulke grond het hulle nie diep wortels nie. Hulle glo wel vir ’n rukkie, maar hulle verlep wanneer die warm winde van beproewing waai.

14. “Die saad tussen die onkruid is mense wat die boodskap hoor en ook aanvaar, maar tog te gou word dit verdring deur die sorge en rykdom en plesiere van hierdie lewe. En só groei hulle nooit tot volwassenheid nie.

15. “Maar die saad wat in goeie grond val, is mense met ’n goeie en opregte hart wat God se boodskap hoor, daaraan vashou en konstant ’n groot oes oplewer.”

16. “Niemand steek ’n lamp op en maak dit dan met iets toe of sit dit onder ’n bed nie. Nee, lampe word op ’n lampstaander geplaas waar mense wat ’n huis binnekom, dit kan sien.

17. Want alles wat weggesteek is, sal sigbaar word en alles wat geheim is, sal uiteindelik aan die lig kom vir almal om te sien.

18. Gee daarom aandag aan wat jy hoor. Aan dié wat hulle oopstel vir my lering, sal groter begrip gegee word. Maar dié wat nie luister nie, van hulle sal selfs dit wat hulle dink hulle het, weggeneem word.”

19. Eenkeer toe Jesus se ma en broers gekom het om Hom te besoek, kon hulle vanweë die skare nie by Hom uitkom nie.

20. Iemand het vir Jesus gesê: “U ma en broers is hier buite en wil U graag sien.”

21. Jesus het geantwoord: “My ma en broers is al die mense wat die boodskap van God hoor en dit gehoorsaam.”

22. Eendag het Jesus vir sy dissipels gesê: “Kom ons vaar oor na die ander kant van die meer.” Hulle het in ’n skuit geklim en begin oorvaar.

23. Op pad oorkant toe het Jesus gaan lê om te slaap, en terwyl Hy slaap, het die wind begin opsteek. ’n Hewige storm het losgebars wat hulle wou laat ondergaan. Hulle was in lewensgevaar.

24. Die dissipels het Hom wakker geskud en geskree: “Leermeester, ons is besig om onder te gaan!” Jesus het die siedende wind en golwe bestraf. Die storm het bedaar en alles was weer kalm.

25. Toe vra Hy vir hulle: “Waar is julle geloof?” En hulle was vervul met ontsag en verbasing. Hulle het vir mekaar gesê: “Wie is hierdie Man tog dat Hy selfs die wind en die golwe opdrag gee en hulle Hom gehoorsaam?”

26. Hulle het toe in die land van die Geraseners aangekom, aan die oorkant van die See van Galilea.

27. Terwyl Jesus uit die skuit klim, het ’n man wat van duiwels besete was en vroeër in die plaaslike dorp gewoon het, na Hom toe gekom. Hy was kaal en het nie ’n huis gehad nie; hy het vir ’n lang tyd in ’n begraafplaas gebly.

28. Net toe hy Jesus sien, het hy gegil en op die grond voor Hom geval en geskreeu: “Waarom steur U my, Jesus, Seun van die allerhoogste God? Asseblief, ek smeek U, moet my nie martel nie!”

29. Want Jesus het alreeds die bose gees beveel om hom te verlaat. Die gees het hom dikwels beetgepak. Selfs al was hy met kettings geboei, het hy dit eenvoudig gebreek en in die woestyn ingehardloop, heeltemal in die mag van die bose gees.

Lees volledige hoofstuk Lukas 8