Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 7:38-50 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

38. Sy het agter Jesus gekniel, by sy voete, en gehuil. Haar trane het op sy voete geval en sy het dit met haar hare afgevee. Sy het sy voete bly soen en die aromatiese olie daaraan gesmeer.

39. Toe die Fariseër wat die gasheer was, sien wat gebeur en wie die vrou is, het hy vir homself gesê: “Dit bewys dat Jesus geen profeet is nie. As God hom werklik gestuur het, sou hy geweet het watter soort vrou hom aanraak. Sy is ’n sondaar!”

40. Jesus het toe gereageer en vir Simon geantwoord. “Simon,” het Hy vir die Fariseër gesê, “Ek het iets om vir jou te sê.”“Reg, Meneer,” het Simon geantwoord, “sê maar.”

41. Jesus vertel hom toe die volgende verhaal: “’n Man het vir twee mense geld geleen – 500 rand vir die een, en 50 vir die ander.

42. Maar nie een van die twee kon hom terugbetaal nie; hy het dus maar al twee oorgesien en hulle skuld afgeskryf. Wie dink jy het hom daarna die meeste liefde bewys?”

43. Simon het geantwoord: “Ek veronderstel die een vir wie hy die meeste skuld afgeskryf het.” “Dis reg,” het Jesus gesê.

44. Hy het toe na die vrou gedraai en vir Simon gesê: “Kyk na hierdie vrou. Toe Ek jou huis ingekom het, het jy My nie water aangebied om die stof van my voete af te was nie, maar sy het hulle met haar trane gewas en met haar hare afgedroog.

45. Jy het My nie met ’n soen verwelkom nie, maar sy het my voete weer en weer gesoen vandat Ek hier ingekom het.

46. Jy het nie my kop met gewone olyfolie gesalf nie, maar sy het my voete met kosbare olie gesalf.

47. Ek sê vir jou, haar sondes – en dit is baie – is vergewe, omdat sy baie liefde aan My bewys het. Maar iemand vir wie min sondes vergewe is, betoon maar min liefde!”

48. Toe sê Jesus vir die vrou: “Jou sondes is vergewe.”

49. Die mans aan tafel sê toe onder mekaar: “Wie dink hierdie man is hy om rond te gaan en sondes te vergewe?”

50. En Jesus sê vir die vrou: “Jou geloof het jou gered; gaan in vrede.”

Lees volledige hoofstuk Lukas 7