Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 7:1-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Toe Jesus al die dinge klaar gesê het, het Hy na Kapernaum toe teruggegaan.

2. ’n Romeinse offisier oor honderd het ’n slaaf gehad wat siek en sterwend was. Die slaaf was vir hom baie werd.

3. Die offisier het van Jesus te hore gekom en ’n paar gerespekteerde Joodse leiers na Hom gestuur om te vra dat Hy die slaaf gesond sal kom maak.

4. Hulle het ernstig by Jesus aangedring om saam met hulle te kom en die man te help. “As enigiemand u hulp verdien, dan is dit hý,” het hulle gesê,

5. “want hy het die Jode lief en het selfs ’n sinagoge vir ons gebou.”

6. Jesus het dus saam met hulle gegaan. Maar net voordat hulle by die huis aangekom het, het die offisier ’n paar vriende gestuur om te sê: “Here, moenie moeite doen om na my huis toe te kom nie, want ek verdien nie so ’n eer nie.

7. Ek is nie eers waardig om U te kom ontmoet nie. Sê maar net ’n woord, en my slaaf sal gesond word.

8. Ek weet, want ek staan onder die gesag van my bevelvoerende offisiere, en ek voer gesag oor my soldate. Ek hoef net te sê: ‘Gaan,’ en hulle gaan: of ‘Kom,’ en hulle kom. En as ek vir my slawe sê: ‘Doen dit of dat,’ dan doen hulle dit.”

9. Toe Jesus dit hoor, het Hy Hom oor die man verwonder. Hy draai toe om na die skare wat Hom volg, en sê: “Ek sê vir julle, selfs in Israel het Ek nie só ’n geloof teëgekom nie!”

10. En toe die offisier se vriende by die huis terugkom, was die slaaf heeltemal gesond.

11. Kort hierna het Jesus en sy dissipels na die dorp Nain gegaan met ’n groot skare wat Hom volg.

12. Toe Jesus die dorpsingang nader, het ’n begrafnisstoet uitgekom. Die jong man wat gesterf het, was die enigste seun van ’n weduwee, en baie rouklaers van die dorp was saam met haar.

13. Toe die Here haar sien, het Hy haar innig jammer gekry. “Moenie huil nie!” het Hy gesê.

14. Toe het Hy na die draagbaar toe geloop en daaraan geraak, en die draers het gaan staan. “Jong man,” het Hy gesê, “Ek sê vir jou, staan op!”

15. Toe het die dooie regop gesit en met die mense om hom begin praat! En Jesus het hom aan sy ma teruggegee.

16. Groot vrees het die skare oorweldig – hulle het God geprys en gesê: “’n Magtige profeet het onder ons opgestaan!” en: “God het besluit om na sy mense om te sien!”

Lees volledige hoofstuk Lukas 7