Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 15:13-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

13. Niemand het ’n groter liefde as hierdie nie: dat iemand sy lewe opoffer ter wille van sy vriende.

14. Julle is my vriende as julle doen wat Ek aan julle opdra.

15. Ek noem julle nie meer slawe nie, want ’n slaaf weet nie wat sy eienaar doen nie. Julle noem ek lankal vriende, omdat Ek alles wat Ek by my Vader gehoor het, aan julle verduidelik het.

16. Dit is nie julle wat My uitgekies het nie, maar Ek wat julle uitgekies het om julle in staat te stel om te gaan vrugte dra, vrugte wat sal hou. Só sal die Vader aan julle gee wat julle ook al in my Naam vra.

17. Ek gee aan julle dié opdrag: julle moet mekaar liefhê.”

18. “As die wêreld julle haat, weet net dat hy My voor julle reeds gehaat het.

19. As julle uit die wêreld ontstaan het, sou die wêreld julle as sy eiendom liefgehad het. Omdat julle egter nie uit die wêreld ontstaan het nie, maar Ek julle uitgekies het uit die wêreld – daarom haat die wêreld julle.

20. “Onthou wat Ek vir julle gesê het: ’n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie. Aangesien hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg. Aangesien hulle my boodskap ter harte geneem het, sal hulle julle s’n ook ter harte neem.

21. Hulle sal al daardie dinge aan julle doen ter wille van my Naam, omdat hulle Hom wat My gestuur het nie ken nie.

22. As Ek nie gekom het en met hulle gepraat het nie, sou hulle nie skuld gehad het nie, maar nou het hulle nie ’n verskoning vir hulle sonde nie.

23. Die een wat My haat, haat ook die Vader.

24. As Ek nie onder hulle die werke gedoen het wat niemand anders gedoen het nie, sou hulle nie skuldig gewees het nie. Maar nou het hulle dit reeds gesien en tog het hulle My en my Vader gehaat.

25. “Die uitspraak wat in hulle wet opgeskryf is, moet vervul word: ‘Hulle het My sonder rede gehaat.’

26. “Wanneer die Raadgewer kom wat Ek vir julle van die Vader af sal stuur, die Gees van die waarheid wat van die Vader af uitgaan, sal Hy oor My in die openbaar getuienis aflê.

Lees volledige hoofstuk Johannes 15