Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 7:10-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. Want alhoewel Levi op daardie stadium nog nie gebore was nie, was hy reeds in Abraham se liggaam toe Melgisedek vir Abraham ontmoet het.

11. En verder: as die Levitiese priesterskap God se plan kon verwesenlik – die volk het tog met die oog op hulle die opdrag ten opsigte van die tiendes ontvang – waarom was dit dan vir God nodig om ’n ander priester, naamlik een uit die priesterorde van Melgisedek, te voorsien, een wat nie tot die priesterorde van Aäron en die Leviete behoort nie?

12. Wanneer die priesterskap verander, moet daar noodwendig ’n aanpassing van die wet plaasvind om daarvoor voorsiening te maak.

13. Want die Een van Wie ons praat, behoort tot ’n ander stam, ’n stam waarvan niemand ooit by die altaar diens gedoen het nie.

14. Ons weet tog almal dat ons Here uit die stam van Juda afkomstig was en dat Moses nooit enigiets gerep het oor priesters uit daardie stam nie.

15. Dit alles maak dit des te meer duidelik dat as daar ’n ander priester sou kom wat met Melgisedek ooreenstemming vertoon,

16. Hy nie sou verskyn volgens die ou vereiste van fisiese afkoms nie, maar in die krag van onvernietigbare lewe.

17. Die psalmdigter het dit soos volg uitgespel toe hy van Christus gesê het:“Jy is priester vir ewigvolgens die priesterorde van Melgisedek.”

18. Ja, die ou vereiste ten opsigte van die priesterskap is tersyde gestel omdat dit oneffektief en nutteloos was;

19. die wet kon glad nie God se doel verwesenlik nie. En toe het ’n baie beter vooruitsig verskyn, een waardeur ons daadwerklik in God se teenwoordigheid kan verskyn!

20. Boonop het God met ’n eed bevestig dat Christus vir altyd priester sal bly – iets wat nie in die geval van gewone priesters gebeur het nie.

21. Dis net vir Christus wat Hy gesê het:“Die Here het ’n eed afgelê en Hy sal dit nie herroep nie:Jy sal vir ewig priester bly.”

22. Op grond van hierdie kragtige eed het Jesus die borg geword wat instaan vir die effektiwiteit van hierdie uitnemender verbond.

23. Nog ’n verskil tussen Jesus en die Levitiese priesterskap is dat daar onder die ou stelsel baie priesters was. Die dood het verhinder dat iemand vir altyd kon aanbly.

Lees volledige hoofstuk Hebreërs 7