Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 11:23-33 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

23. Omdat hulle geglo het, het Moses se ouers hom na sy geboorte vir drie maande weggesteek, want hulle het agtergekom dat hy ’n besondere kind was. Hulle het hulle nie deur die koning se bevel laat afskrik nie.

24. Omdat Moses geglo het, het hy as volwasse man geweier om as die seun van Farao se dogter bekend te staan.

25. Hy het die swaarkry saam met God se volk verkies bo die kortstondige genieting van die sonde.

26. Vir hom was die smaad wat hy ter wille van Christus, die Messias, moes deurmaak, ’n groter rykdom as die skatte van Egipte. Hy het immers uitgesien na die beloning wat God aan hom sou gee.

27. Omdat hy geglo het, het Moses Egipte verlaat sonder om hom deur die woede van die koning te laat afskrik. Hy het volgehou soos iemand wat sy oog op die onsienlike gevestig hou.

28. Omdat Moses geglo het, het hy die Paasfees ingestel en bloed aan die deurkosyne laat smeer sodat die doodsengel nie die Israeliete se oudste seuns sou tref nie.

29. Omdat hulle geglo het, het die Israeliete deur die Rooisee getrek soos op droë grond. Maar toe die Egiptenaars dit ook probeer het, het hulle verdrink.

30. Omdat die Israeliete geglo het, het hulle vir sewe dae om Jerigo marsjeer en sy mure het ineengestort.

31. Omdat sy geglo het, het Ragab die prostituut die spioene vriendelik ontvang en nie saam met die mense van haar stad, wat aan God ongehoorsaam was, gesterf nie.

32. Wat meer moet ek nog sê? Dit sal veels te lank neem om nog te vertel van die geloof van Gideon, Barak, Simson, Jefta, Dawid, Samuel en die profete.

33. Hulle het deur te glo koninkryke verower, die reg herstel, verkry wat God beloof het, leeus se bekke toegestop,

Lees volledige hoofstuk Hebreërs 11