Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 11:11-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. Omdat hy geglo het, het Abraham, saam met Sara (wat onvrugbaar was), ook krag ontvang om ’n kind te verwek, en dit nogal in sy ouderdom, omdat hy geglo het dat God sy belofte sou nakom.

12. En so is daar uit een mens, en dit nogal een wat nie meer ’n kind kon verwek nie, mense gebore so baie soos die sterre aan die hemelruim en so ontelbaar soos die sandkorrels op die strand.

13. Terwyl hulle nog steeds geglo het, het hulle almal gesterf sonder om die vervulling van God se belofte te beleef. Hulle het dit egter in die verte gesien en begroet, en erken dat hulle hier net vreemdelinge en bywoners is.

14. Mense wat só praat, gee daarmee duidelik te kenne dat hulle op soek is na hulle eintlike vaderland.

15. As hulle daardie land bedoel het waarvandaan hulle geëmigreer het, sou hulle kans kry om weer terug te trek.

16. Maar nou hunker hulle na ’n beter vaderland, naamlik dié een in die hemel. Dit is waarom God Hom nie skaam om as hulle God bekend te staan nie. Hy het immers vir hulle ’n stad voorberei.

17. Omdat hy geglo het, het Abraham, toe God hom wou toets, sy seun as’t ware al klaar geoffer gehad. Ja, hy wou sy enigste kind offer – dié man wat God se beloftes ontvang het,

18. aan wie gesê is: “Isak is die seun uit wie jou nageslag gebore sal word.”

19. Hy het daarop gereken dat God sy kind selfs uit die dood sou kon opwek. En in ’n sekere sin hét hy hom ook uit die dood terugontvang.

20. Omdat hy geglo het, het Isak sy seuns Jakob en Esau geseën met die oog op wat God nog in die toekoms sou doen.

21. Omdat hy geglo het, het Jakob op sy sterfbed albei seuns van Josef geseën en biddend voor God gebuig terwyl hy op sy kierie geleun het.

Lees volledige hoofstuk Hebreërs 11