Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 9:27-42 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

27. Barnabas het hom toe na die apostels toe gevat, en vir hulle vertel hoe Saulus op pad na Damaskus die Here gesien het. Barnabas het ook vertel dat die Here met Saulus gepraat het, en hoe hy in Damaskus openlik in die Naam van Jesus gepreek het.

28. Saulus het toe oral in Jerusalem saam met hulle rondgegaan en openlik in die Naam van die Here gepreek.

29. Hy het ook met Griekssprekende Jode gepraat en met hulle geredeneer, maar hulle het planne beraam om hom te vermoor.

30. Toe die gelowiges dit agterkom, het hulle hom Sesarea toe gevat en hom van daar na Tarsus toe weggestuur.

31. Die kerk het deur die hele Judea, Galilea en Samaria vrede gehad. Die gelowiges is opgebou en het in ontsag vir die Here geleef, en hulle is deur die Heilige Gees versterk. Op hierdie manier het hulle getalle aangegroei.

32. Petrus het van plek tot plek gereis en het op ’n keer ook by die gelowiges in die dorp Lidda gekom.

33. Daar het hy ’n man met die naam Eneas gekry wat verlam en al agt jaar bedlêend was.

34. “Eneas,” het Petrus toe vir hom gesê, “Jesus Christus maak jou gesond! Staan en rol jou bed op!” En hy het dadelik opgestaan.

35. Al die inwoners van Lidda en die Saronvlakte het hulle tot die Here bekeer toe hulle Eneas sien rondgaan.

36. In Joppe was daar ’n gelowige vrou met die naam Tabita (in Grieks is sy “Dorkas”). Sy was altyd besig om aan ander goed te doen en armes te help.

37. Juis in dié tyd het sy siek geword en is sy dood. Hulle het haar liggaam vir die begrafnis voorberei, en in ’n bokamer neergelê.

38. Met Lidda naby Joppe het die gelowiges gehoor dat Petrus daar is. Hulle het toe twee mans na hom toe gestuur met die versoek: “Kom asseblief sonder uitstel na ons toe!”

39. Petrus is dadelik saam met hulle terug. Toe hy daar kom, het hulle hom bokamer toe gevat. Al die weduwees het by hom kom staan en snikkend vir hom die verskillende soorte klere gewys wat Dorkas gemaak het toe sy nog by hulle was.

40. Petrus het almal egter uitgestuur, en toe het hy gekniel en gebid. Hy het na die liggaam toe gedraai en gesê: “Tabita, staan op!” Sy het haar oë oopgemaak! Toe sy Petrus sien, het sy regop gesit.

41. Hy het haar sy hand gegee en haar help opstaan. Toe het hy die gelowiges en die weduwees geroep, en hulle gewys sy leef.

42. Dié gebeure het in die hele Joppe bekend geword, en baie het tot geloof in die Here gekom.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 9