Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 8:8-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

8. Daar was groot blydskap in daardie stad.

9. In dié stad het ’n man met die naam Simon al vir jare lank die inwoners met sy toorkunste beïndruk. Hy het daarop aanspraak gemaak dat hy iemand besonders was.

10. Almal, van die geringstes tot die belangrikstes, het na hom verwys as: “Die Grote, die Krag van God.”

11. Hulle het hom baie ernstig opgeneem, juis vanweë sy toorkunste.

12. Nou het die mense egter Filippus se Goeie Nuus oor die koningsheerskappy van God en die Naam van Jesus Christus in die geloof aanvaar. Gevolglik is baie mans en vroue gedoop.

13. Selfs Simon het gelowig geword, en is gedoop. Hy het Filippus oral begin vergesel, en hy was verstom oor die wondertekens en groot kragte wat hy sien gebeur het.

14. Toe die apostels in Jerusalem hoor dat die mense in Samaria die boodskap van God aanvaar het, het hulle Petrus en Johannes daarheen afgevaardig.

15. Toe hulle daar aankom, het hulle vir die nuwe gelowiges gebid dat hulle die Heilige Gees mag ontvang.

16. Want die Heilige Gees het immers nog nie op een van hulle gekom nie, want hulle was net in die Naam van die Here Jesus gedoop.

17. Petrus en Johannes het toe hulle hande op hierdie gelowiges gesit, en hulle het die Heilige Gees ontvang.

18. Toe Simon sien dat die mense die Gees ontvang wanneer die apostels hulle hande op hulle sit, wou hy hierdie mag koop.

19. “Gee my ook hierdie mag,” het hy gesê, “sodat elkeen op wie ek my hande sit, die Heilige Gees kan ontvang!”

20. Petrus het hom egter geantwoord: “Mag jou geld saam met jou vernietig word omdat jy dink dat dié gawe van God gekóóp kan word!

21. Hier is nie plek vir jou nie, want voor God is jou hart nie reg nie.

22. “Bekeer jou van hierdie boosheid van jou en bid tot die Here. Miskien sal Hy jou bose planne vergewe.

23. Ek kan sien jy is vol bitterheid en deur sonde geboei.”

24. “Bid júlle tog vir my tot die Here,” het Simon uitgeroep, “dat hierdie verskriklike dinge nie met my gebeur nie!”

25. Nadat Petrus en Johannes kragtig getuienis gelewer en die woord van die Here in Samaria verkondig het, het hulle na Jerusalem toe teruggegaan. Op pad het hulle die evangelie ook in baie Samaritaanse dorpies verkondig.

26. Vir Filippus het ’n engel van die Here egter gesê: “Gaan suid met die woestynpad wat van Jerusalem af Gasa toe loop.”

27. Filippus het dit gedoen, en hy het die Minister van Finansies van Etiopië teëgekom. Hy was ’n ontmande in dié hoë pos by die koningin van Etiopië. Hy het Jerusalem toe gekom om te aanbid,

Lees volledige hoofstuk Handelinge 8