Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 7:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Die hoofpriester vra toe vir Stefanus: “Is hierdie aanklagte waar?”

2. Toe het Stefanus gesê: “Medegelowiges, luister na my! Ons glorieryke God het in Mesopotamië aan ons voorvader Abraham verskyn voordat hy Haran toe is.

3. God het vir hom gesê: ‘Verlaat jou geboorteland en jou familie, en gaan na die land toe wat Ek vir jou sal wys.’

4. Abraham het toe die land van die Galdeërs verlaat en in Haran gaan woon. Ná sy pa se dood het God hom daarvandaan laat verhuis na hierdie land waar julle nou woon.

5. God het hom geen eiendom as erfdeel hier gegee nie, selfs nie ’n vierkante meter nie. God het egter belowe dat die hele land syne en sy nageslag s’n sal wees, al het hy toe nog geen kind gehad nie.

6. “God het egter ook gesê dat sy nageslag as uitlanders sal woon in ’n vreemde land, waar hulle vir 400 jaar as slawe mishandel sal word.

7. ‘Maar Ék sal die nasie straf wat hulle as slawe laat werk,’ het God gesê, ‘en uiteindelik sal hulle wegtrek en My op hierdie plek aanbid.’

8. God het in hierdie tyd vir Abraham die verbond gegee waarvan die besnydenis die teken is. So het dit gekom dat Abraham sy seun Isak besny het toe hy agt dae oud was. Isak het dieselfde gedoen met Jakob, en Jakob met die twaalf stamvaders.

9. “Hierdie seuns van Jakob was jaloers op hulle broer Josef, en hulle het hom verkoop om ’n slaaf in Egipte te wees. Maar God was by hom

10. en het hom uit al sy swaarkry gered. God het gemaak dat Farao, die koning van Egipte, van hom hou. God het ook besondere wysheid aan Josef gegee sodat Farao hom as onderkoning oor Egipte en as hoof van sy hele huishouding aangestel het.

11. “Toe het daar hongersnood in die hele Egipte en ook in Kanaän gekom. Ons voorouers het baie swaar gehad, want hulle kos het opgeraak.

12. “Toe Jakob hoor dat daar in Egipte koring is, het hy sy seuns gestuur om daarvan te gaan koop.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 7