Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 26:12-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

12. Op ’n keer was ek hieroor op reis na Damaskus, met ’n mandaat en in opdrag van die priesterhoofde.

13. Dit was teen die middag, U Majesteit, toe ’n lig helderder as die son van die hemel af op my en my reisgenote geskyn het.

14. Ons het almal neergeval, en ek het ’n stem in Aramees vir my hoor sê: ‘Saul, Saul, waarom vervolg jy My? Jy maak jouself net seer deur jou teen My te verset.’

15. “‘Wie is U, Meneer?’ vra ek toe.“En die Here antwoord: ‘Ek is Jesus, dié Een wat jý vervolg.

16. Staan op! Ek het juis hiervoor aan jou verskyn om jou as my dienskneg en getuie aan te stel. Jy moet vertel hoedat jy My gesien het en van wat Ek jou nog sal laat sien.

17. Ek sal jou teen jou volk beskerm en teen die nie-Joodse nasies na wie toe Ek jou met volle mandaat stuur.

18. Jou bediening moet hulle oë oopmaak sodat hulle ’n lewensomkeer kan maak, weg van die duisternis na die lig, en weg van die mag van Satan na God. Deur in My te glo, ontvang hulle vergifnis van hulle sondes en word hulle deur die geloof deel van mý mense.’

19. “Dis hoekom, koning Agrippa, ek nie aan die gesig uit die hemel ongehoorsaam was nie.

20. Ek het eers vir die mense in Damaskus en in Jerusalem en toe deur die hele Judea en daarna vir die nie-Joodse nasies gepreek dat hulle tot inkeer moet kom en na God toe moet omdraai, terwyl hulle met hulle doen en late bewys dat hulle tot inkeer gekom het.

21. Oor hierdie prediking het sommige Jode my by die tempel gearresteer en probeer vermoor.

22. Tot vandag toe het God my beskerm, en daarom staan ek hier en getuig voor klein en groot. Ek verkondig niks anders as wat die profete en Moses gesê het gaan gebeur nie:

Lees volledige hoofstuk Handelinge 26