Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 22:14-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

14. “Toe sê hy: ‘Die God van ons voorvaders het jou uitgekies om sy wil te ken, en om die Regverdige te sien en Hom te hoor praat.

15. Jy sal inderdaad vir alle mense sy getuie wees van wat jy gesien en gehoor het.

16. En nou, waarom nog wag? Staan op, laat jou doop en jou sondes afwas. Jy het mos sy Naam aangeroep.’

17. “Ek is terug Jerusalem toe, en terwyl ek by die tempel besig was om te bid, het ek ’n buitengewone geestelike ervaring gehad.

18. Ek het die Here gesien en Hy het vir my gesê: ‘Maak gou! Gee dadelik pad uit Jerusalem. Hierdie mense sal verseker nie jou getuienis oor My aanvaar nie.’

19. “Toe het ék teëgestribbel: ‘Maar, Here, hulle weet dat ék die man is wat oral in die sinagoges die mense wat in U glo, gearresteer en laat slaan het.

20. En toe u getuie Stefanus vermoor is, het ek self hulle ondersteun. Ek het sy moordenaars se klere opgepas!’

21. Toe sê die Here vir my: ‘Gáán! Ék wil jou ver weg stuur, na die nie-Joodse nasies toe.’”

22. Die skare het na hom geluister tot op hierdie punt, en toe het hulle uit een mond begin skreeu: “Weg van die aarde af met so ’n vent! Só iemand behoort verseker nie te bly lewe nie!”

23. Hulle het aanhou skreeu, hulle bo-klere uitgepluk en stof in die lug opgegooi.

24. Die offisier oor duisend man het Paulus toe die kaserne laat inbring en bevel gegee dat hy gegésel moes word om hom sy misdaad te laat bely. Die offisier wou agterkom hoekom die skare Paulus so uitgejou het.

25. Hulle het hom klaar met rieme vasgebind gehad vir die géseling toe Paulus vir die offisier oor honderd man wat daar naby staan, vra: “Is dit wettig dat julle ’n Romeinse burger gésel, en boonop nog sonder verhoor?”

26. Die offisier oor honderd man gaan toe na die offisier oor duisend man en vra: “Wat is u van plan om te doen? U moet besef hierdie man is ’n Romeinse burger!”

27. Die offisier oor duisend man gaan vra toe vir Paulus: “Sê vir my, ís jy ’n Romeinse burger?”“Ja,” het Paulus geantwoord.

28. “Ek is ook een,” het die offisier oor duisend man gereageer, “en hierdie burgerreg het my ’n klomp geld gekos!”“Maar ék is as ’n burger gebore!” het Paulus gesê.

29. Die soldate wat hom moes gésel om hom te laat praat, het hom dadelik laat staan, en selfs die offisier oor duisend man het bang geword toe hy besef dat Paulus ’n Romeinse burger is en dat hy hom vir die géseling laat vasbind het.

30. Die offisier oor duisend man het die volgende dag sy boeie laat afhaal en die priesterhoofde en die hele Joodse Raad vir ’n vergadering opgeroep. Hy het Paulus laat inbring, want hy wou agterkom presies waaroor hy deur die Jode aangekla was.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 22