Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 21:8-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

8. Die volgende dag het ons vertrek en in Sesarea aangekom. Ons het by die evangelis Filippus, een van die sewe, tuisgegaan.

9. Hy het vier ongetroude dogters gehad met die gawe om te profeteer.

10. Ons was reeds ’n hele paar dae daar toe ’n profeet met die naam Agabus van Judea af daar aankom.

11. Toe hy ons kom opsoek, het hy Paulus se belt gevat en sy eie voete en hande daarmee vasgebind. Toe sê hy: “Só sê die Heilige Gees: ‘Die man wie se belt dit is hierdie – die Jode in Jerusalem sal hom net so vasbind en hom in die hande van nie-Jode uitlewer.’”

12. Toe ons dit hoor, het ons en die plaaslike gelowiges Paulus gesmeek om nie Jerusalem toe te gaan nie.

13. Sy reaksie was egter: “Waarom wil julle my hart sag maak met julle huilery? Julle weet mos ek is bereid om ter wille van die Naam van die Here Jesus nie net in Jerusalem gevange geneem te word nie, maar selfs ook te sterf.”

14. Toe hy nie tot ander insigte gebring kon word nie, het ons met dié woorde berus: “Laat dan die wil van die Here geskied.”

15. Hierna het ons opgepak en Jerusalem toe vertrek.

16. Party van die gelowiges het van Sesarea af saam met ons gegaan. Hulle het ons na Mnason toe gevat, wat oorspronklik van Siprus afkomstig was, en wat reeds van vroeg af ’n gelowige was. By hom sou ons tuisgaan.

17. Die gelowiges in Jerusalem het ons hartlik ontvang.

18. Die volgende dag is Paulus saam met ons na Jakobus toe. Al die ouderlinge was by.

19. Ná Paulus hulle gegroet het, het hy in besonderhede vertel wat God onder die nie-Jode deur sy bediening gedoen het.

20. Toe hulle dit hoor, het hulle God geprys. Hulle het egter vir Paulus gesê: “Jy sien, broer, daar is hoeveel duisende van dié wat gelowiges geword het wat Jode is, en hulle is almal ywerige toepassers van die wet.

21. Die gelowiges hier in Jerusalem het gehoor dat jy al die Jode wat onder die nie-Jode woon, leer om die wet van Moses te ignoreer. Hulle beweer jy leer hulle om nie meer hulle kinders te laat besny nie en om nie die ander Joodse gebruike te onderhou nie.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 21