Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 19:27-39 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

27. Dis nie net ’n geval van ons bedryf wat gevaar loop om sy goeie naam te verloor nie. Die gevaar bestaan ook dat die tempel van die groot godin Artemis, wat die hele Asië én die wêreld as god vereer, as nikswerd beskou word en dat sy van haar grootheid beroof gaan word!”

28. By die aanhoor hiervan het hulle woede oorgekook en hulle het begin skreeu: “Groot is Artemis van die Efesiërs!”

29. Die hele stad was in rep en roer, en soos een man het die mense amfiteater toe gestorm. Hulle het vir Gaius en Aristargus, albei Masedoniese reisgenote van Paulus, saamgesleep.

30. Paulus wou saam met die betogers ingaan, maar die gelowiges wou hom nie toelaat nie.

31. Ook het party van die hoë amptenare van die provinsie Asië wat Paulus se vriende was, vir hom ’n boodskap gestuur en hom gewaarsku om dit nie in die amfiteater te waag nie.

32. Binne die amfiteater het party dít geskreeu en ander dát. Die vergadering was regtig in die war en die meeste het eintlik nie eers geweet hoekom hulle daar bymekaar was nie.

33. Sommige van die Jode het vir Aleksander vorentoe gestoot, en hulle het uit die skare vir hom gesê wat hy moet doen. Hy het met sy hand beduie dat hy iets ter verdediging vir almal wil sê.

34. Maar toe hulle agterkom dat hy ’n Jood is, was daar vir byna twee uur lank één kreet van die kant van die skreeuende skare: “Groot is Artemis van die Efesiërs! Groot is Artemis van die Efesiërs!”

35. Uiteindelik het die stadsklerk die betogers tot bedaring gebring. “Geagte Efesiërs,” het hy gesê, “daar is verseker geen mens wat nie weet dat die stad Efese die tempelbeskermer is van die groot Artemis, wie se beeld hier by ons uit die hemel geval het nie!

36. Dít staan soos ’n paal bo water. Bedaar dus en moenie iets oorhaastigs doen nie.

37. “Julle het hierdie mans hierheen gebring, alhoewel hulle nie iets uit ons tempel gesteel of ons godin beledig het nie.

38. As Demetrius en sy ambagsmanne dus ’n klag teen iemand het – hofsittings word gehou en daar is goewerneurs. Laat hulle mekaar daar gaan aankla.

39. En as julle verdere klagtes het, moet die saak op ’n wettige volksvergadering ter tafel gebring word.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 19