hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28

Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Paulus begin met sy derde

sendingreis

1. Terwyl Apollos in Korinte was, het Paulus deur die binnelandse gebiede van Klein-Asië Efese toe gereis. Daar het hy ’n groepie gelowiges gekry.

2. Hy het vir hulle gevra: “Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle begin glo het?”“Ons het nie eens gehoor dat daar ’n Heilige Gees is nie,” het hulle hom geantwoord.

3. “Met watter doop is julle dan gedoop?” het hy gevra.Hulle het geantwoord: “Met die doop van Johannes.”

4. Paulus sê toe: “Johannes se doop was ’n bevestiging dat ’n mens jou van jou sonde bekeer het tot God. Johannes het self vir die volk gesê hulle moet in Jesus glo, dié Een wat hy gesê het ná hom kom.”

5. Toe hulle dit hoor, het hulle hulle in die Naam van die Here Jesus laat doop.

6. Toe Paulus sy hande op hulle sit, het die Heilige Gees op hulle gekom en hulle het in ander tale gepraat en geprofeteer.

7. Altesaam was dit ongeveer twaalf mans.

In Efese triomfeer die evangelie

van Jesus Christus oor die bose

magte

8. Paulus is toe na die sinagoge en hy het daar vir drie maande lank met vrymoedigheid gepreek. Hy het besprekings gehou en oortuigende argumente aangevoer oor die koningsheerskappy van God.

9. Party was egter koppig en wou hulle nie laat oortuig nie. Hulle het ook voor die gemeente sleg gepraat van “Die Pad”. Toe het Paulus die sinagoge verlaat en hy het die gelowiges saam met hom gevat. Hy het daagliks in die lesingsaal van Tirannus besprekings gehou.

10. So het dit vir die volgende twee jaar gegaan sodat almal in die Romeinse provinsie Asië, Jode sowel as Grieke, die boodskap van die Here gehoor het.

11. God het deur Paulus se optrede wonderbaarlike dinge gedoen.

12. Selfs wanneer doeke of voorskote wat aan sy vel geraak het, op siekes gesit is, het hulle siektes verdwyn. Selfs bose geeste het uit mense uitgegaan.

13. Party rondreisende Joodse geesuitdrywers het ook probeer om die Naam van die Here Jesus te gebruik vir mense wat bose geeste gehad het. Die formule wat hulle probeer het, was: “Ek dryf julle uit in die Naam van dié Jesus vir wie Paulus verkondig!”

14. Hierdie geesuitdrywers was die sewe seuns van ’n senior Joodse priester, Skeva.

15. Maar die bose gees het vir hulle gesê: “Jesus ken ek, en van Paulus weet ek, maar wie’s júlle?”

16. Die man in wie die bose gees was, spring toe onder hulle in. Hy was te sterk vir hulle en kry die oorhand oor hulle sodat hulle kaal en erg beseer uit daardie huis gevlug het.

17. Dié gebeure het bekend geword by al die Jode en Grieke in Efese. ’n Gevoel van diep ontsag het oor hulle almal gekom, en die Naam van die Here Jesus is grootgemaak.

18. Baie van dié wat gelowig geword het, het hulle aangemeld en al hulle praktyke openlik bely.

19. Heelparty van dié wat toorkunste beoefen het, het hulle toorboeke saamgebring en voor almal verbrand. Die waarde van dié boeke was 50 000 silwermuntstukke.

20. So het die woord van die Here kragtig gegroei en sterk geword.

Paulus bots met die

ambagsmanne van Efese

21. Hierna het Paulus, deur die Gees gedring, besluit om deur Masedonië en Agaje na Jerusalem te reis. “Ná ek daar was,” het hy gesê, “moet ek ook Rome sien.”

22. Hy het twee van sy helpers, Timoteus en Erastus, met ’n mandaat Masedonië toe gestuur; self het hy nog ’n tyd lank in die provinsie Asië gebly.

23. Juis in daardie tyd was daar ’n taamlike groot opskudding oor “Die Pad”.

24. Dit het begin by ’n silwersmid met die naam Demetrius. Hy het silwer Artemistempeltjies gemaak en vir ambagsmanne ’n beduidende verdienste verskaf.

25. Hy roep toe die ambagsmanne en ander wat soortgelyke werk doen, en sê vir hulle: “Manne, julle weet dat ons voorspoed uit dié bedryf kom.

26. En nou sien en hoor julle dat hierdie Paulus ’n beduidende klomp mense van sy standpunt oortuig het, naamlik dat gode wat met die hand gemaak word, glad nie gode is nie. En dit gebeur nie net in Efese nie, maar in byna die hele provinsie Asië!

27. Dis nie net ’n geval van ons bedryf wat gevaar loop om sy goeie naam te verloor nie. Die gevaar bestaan ook dat die tempel van die groot godin Artemis, wat die hele Asië én die wêreld as god vereer, as nikswerd beskou word en dat sy van haar grootheid beroof gaan word!”

28. By die aanhoor hiervan het hulle woede oorgekook en hulle het begin skreeu: “Groot is Artemis van die Efesiërs!”

29. Die hele stad was in rep en roer, en soos een man het die mense amfiteater toe gestorm. Hulle het vir Gaius en Aristargus, albei Masedoniese reisgenote van Paulus, saamgesleep.

30. Paulus wou saam met die betogers ingaan, maar die gelowiges wou hom nie toelaat nie.

31. Ook het party van die hoë amptenare van die provinsie Asië wat Paulus se vriende was, vir hom ’n boodskap gestuur en hom gewaarsku om dit nie in die amfiteater te waag nie.

32. Binne die amfiteater het party dít geskreeu en ander dát. Die vergadering was regtig in die war en die meeste het eintlik nie eers geweet hoekom hulle daar bymekaar was nie.

33. Sommige van die Jode het vir Aleksander vorentoe gestoot, en hulle het uit die skare vir hom gesê wat hy moet doen. Hy het met sy hand beduie dat hy iets ter verdediging vir almal wil sê.

34. Maar toe hulle agterkom dat hy ’n Jood is, was daar vir byna twee uur lank één kreet van die kant van die skreeuende skare: “Groot is Artemis van die Efesiërs! Groot is Artemis van die Efesiërs!”

35. Uiteindelik het die stadsklerk die betogers tot bedaring gebring. “Geagte Efesiërs,” het hy gesê, “daar is verseker geen mens wat nie weet dat die stad Efese die tempelbeskermer is van die groot Artemis, wie se beeld hier by ons uit die hemel geval het nie!

36. Dít staan soos ’n paal bo water. Bedaar dus en moenie iets oorhaastigs doen nie.

37. “Julle het hierdie mans hierheen gebring, alhoewel hulle nie iets uit ons tempel gesteel of ons godin beledig het nie.

38. As Demetrius en sy ambagsmanne dus ’n klag teen iemand het – hofsittings word gehou en daar is goewerneurs. Laat hulle mekaar daar gaan aankla.

39. En as julle verdere klagtes het, moet die saak op ’n wettige volksvergadering ter tafel gebring word.

40. Ons loop eerlikwaar gevaar om oor vandag se gebeure van opstand aangekla te word. Daar is geen gronde vir hierdie betoging nie, en ons kan dit nie verantwoord nie.”Hiermee het hy die vergadering verdaag.