Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 14:13-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

13. Die Zeustempel was net buite die stad. Die priester van die tempel het bulle en blomkranse na die stadspoort toe gevat, en hy het gereedgemaak om saam met die skare offers aan die apostels te bring.

14. Toe die apostels Barnabas en Paulus daarvan hoor, het hulle hulle klere geskeur en tussen die skare ingespring en geskreeu:

15. “Mense, waarom doen julle dit? Ons is mense, net soos julle. Ons bring vir julle die Goeie Nuus dat julle hierdie nikswerd kamstige gode moet laat staan en julle tot die lewende God bekeer. Dit is Hy wat die hemel en die aarde en die see en alles wat in hulle bestaan, gemaak het.

16. In vorige geslagte het Hy die ander nasies toegelaat om hulle eie koers te kies,

17. maar tog het Hy duidelike getuienis gegee dat dit Hy is wat die goeie dinge gee: Hy het vir julle reën gegee van die hemel af, en oeste op hulle tyd; Hy het julle volop kos gegee en in julle harte volop vreugde.”

18. Maar selfs met hierdie woorde kon die apostels skaars keer dat die mense offers aan hulle bring.

19. Toe het daar Jode van Antiogië en Ikonium af gekom en die mense na hulle kant toe oorgehaal. Hulle het Paulus gestenig en hom uit die stad gesleep onder die indruk dat hy dood is.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 14