hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28

Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Ook Ikonium hoor die Goeie

Nuus

1. In Ikonium het dit ook so gegaan. Paulus en Barnabas het weer die Joodse sinagoge binnegegaan en daar gepreek, en ’n groot aantal Jode en Grieke het gelowig geword.

2. Maar die Jode wat nie oortuig geraak het nie, het die gemoedere van die nieJode opgesweep en hulle teen die gelowiges aangehits.

3. Die apostels het ’n taamlike tyd daar deurgebring en in vertroue op die Here met vrymoedigheid gepreek. Die Here het ook die waarheid van die boodskap van sy genade bevestig deur te gee dat tekens en wonders deur die apostels se toedoen plaasvind.

4. Die mense in die stad was verdeeld: party het hulle by die Jode geskaar en party by die apostels.

5. Op ’n stadium het die nie-Jode en die Jode, saam met hulle leiers, beplan om die apostels aan te rand en met klippe dood te gooi.

6. Toe die apostels dit agterkom, het hulle na Listra en Derbe en die Likaonië-omgewing gevlug.

7. Dáár het hulle toe die Goeie Nuus verkondig.

Paulus en Barnabas bring die

Goeie Nuus aan die mense van

Listra

8. In Listra was daar ’n man wat sy voete nie kon gebruik nie. Van sy geboorte af was hy verlam en kon hy nooit loop nie.

9. Hy het geluister terwyl Paulus praat. Paulus het stip na hom gekyk en gesien dat hy die geloof het om gesond gemaak te word.

10. Toe het hy met ’n harde stem gesê: “Op jou voete!” Die man het opgespring en begin rondstap.

11. Toe die skare sien wat Paulus gedoen het, roep hulle in Likaonies uit: “Die gode het met mensliggame na ons toe afgekom!”

12. Hulle het Barnabas “Zeus” begin noem en Paulus, omdat hy die een was wat die praatwerk gedoen het, “Hermes”.

13. Die Zeustempel was net buite die stad. Die priester van die tempel het bulle en blomkranse na die stadspoort toe gevat, en hy het gereedgemaak om saam met die skare offers aan die apostels te bring.

14. Toe die apostels Barnabas en Paulus daarvan hoor, het hulle hulle klere geskeur en tussen die skare ingespring en geskreeu:

15. “Mense, waarom doen julle dit? Ons is mense, net soos julle. Ons bring vir julle die Goeie Nuus dat julle hierdie nikswerd kamstige gode moet laat staan en julle tot die lewende God bekeer. Dit is Hy wat die hemel en die aarde en die see en alles wat in hulle bestaan, gemaak het.

16. In vorige geslagte het Hy die ander nasies toegelaat om hulle eie koers te kies,

17. maar tog het Hy duidelike getuienis gegee dat dit Hy is wat die goeie dinge gee: Hy het vir julle reën gegee van die hemel af, en oeste op hulle tyd; Hy het julle volop kos gegee en in julle harte volop vreugde.”

18. Maar selfs met hierdie woorde kon die apostels skaars keer dat die mense offers aan hulle bring.

19. Toe het daar Jode van Antiogië en Ikonium af gekom en die mense na hulle kant toe oorgehaal. Hulle het Paulus gestenig en hom uit die stad gesleep onder die indruk dat hy dood is.

20. Toe gelowiges ’n kring rondom hom begin vorm, het hy opgestaan en weer die stad ingegaan. Die volgende dag het hy en Barnabas na Derbe toe vertrek.

Paulus en Barnabas terug na

Antiogië in Sirië

21. Paulus en Barnabas het die Goeie Nuus ook in Derbe verkondig, en hulle het ’n redelike aantal volgelinge van Jesus bygekry. Daarna het hulle na Listra, Ikonium en Antiogië in Pisidië toe teruggegaan.

22. Hulle het die gelowiges geestelik versterk en hulle aangespoor om vol te hou met die geloof. “Ons moet eers deur baie verdrukking gaan voordat ons voluit aan die koningsheerskappy van God kan deel hê,” het hulle gesê.

23. In elke gemeente het hulle vir hulle ouderlinge gekies. Nadat hulle gebid en gevas het, het die apostels hulle opgedra aan die Here in wie hulle nou geglo het.

24. Die apostels het verder deur Pisidië gegaan en in Pamfilië gekom.

25. Daar het hulle in Perge die woord verkondig en daarna Attalië toe vertrek.

26. Daarvandaan het hulle na Antiogië in Sirië gevaar waar hulle aanvanklik aan die genade van God opgedra was vir die werk wat hulle nou voltooi het.

27. By hulle aankoms het hulle die gemeente bymekaargeroep en vir hulle vertel wat God alles deur hulle gedoen het en dat Hy ook vir die nie-Jode die deur na die geloof oopgemaak het.

28. Hulle het ’n geruime tyd daar saam met die gelowiges deurgebring.