Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 14:1-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. In Ikonium het dit ook so gegaan. Paulus en Barnabas het weer die Joodse sinagoge binnegegaan en daar gepreek, en ’n groot aantal Jode en Grieke het gelowig geword.

2. Maar die Jode wat nie oortuig geraak het nie, het die gemoedere van die nieJode opgesweep en hulle teen die gelowiges aangehits.

3. Die apostels het ’n taamlike tyd daar deurgebring en in vertroue op die Here met vrymoedigheid gepreek. Die Here het ook die waarheid van die boodskap van sy genade bevestig deur te gee dat tekens en wonders deur die apostels se toedoen plaasvind.

4. Die mense in die stad was verdeeld: party het hulle by die Jode geskaar en party by die apostels.

5. Op ’n stadium het die nie-Jode en die Jode, saam met hulle leiers, beplan om die apostels aan te rand en met klippe dood te gooi.

6. Toe die apostels dit agterkom, het hulle na Listra en Derbe en die Likaonië-omgewing gevlug.

7. Dáár het hulle toe die Goeie Nuus verkondig.

8. In Listra was daar ’n man wat sy voete nie kon gebruik nie. Van sy geboorte af was hy verlam en kon hy nooit loop nie.

9. Hy het geluister terwyl Paulus praat. Paulus het stip na hom gekyk en gesien dat hy die geloof het om gesond gemaak te word.

10. Toe het hy met ’n harde stem gesê: “Op jou voete!” Die man het opgespring en begin rondstap.

11. Toe die skare sien wat Paulus gedoen het, roep hulle in Likaonies uit: “Die gode het met mensliggame na ons toe afgekom!”

12. Hulle het Barnabas “Zeus” begin noem en Paulus, omdat hy die een was wat die praatwerk gedoen het, “Hermes”.

13. Die Zeustempel was net buite die stad. Die priester van die tempel het bulle en blomkranse na die stadspoort toe gevat, en hy het gereedgemaak om saam met die skare offers aan die apostels te bring.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 14