Ou Testament

Nuwe Testament

Filippense 4:10-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. Ek prys die Here met groot blydskap omdat julle weer ’n slag aan my kon dink. Ek weet julle het eintlik heeltyd aan my gedink, maar het net nie die geleentheid gehad om iets te doen nie.

11. Ek sê dit nie omdat ek iets kortkom nie. Ek het regtig geleer om onder alle omstandighede reg te kom.

12. Ek weet wat dit is om boomskraap te lewe, en ek weet wat dit is om oorvloed te hê. Ek het lewenservaring opgedoen vir alle omstandighede, vir wanneer ek genoeg het om te eet én wanneer ek honger is, vir oorvloed én tekort.

13. Ek kan alles doen deur Hom wat my krag gee.

14. Nietemin, julle het goedgedoen deur my in my swaarkry by te staan.

15. Julle, Filippense, weet wat in die beginjare met die uitdra van die Goeie Nuus gebeur het. Toe ek van Masedonië af vertrek het, het geen gemeente behalwe julle my finansieel ondersteun nie.

16. Selfs toe ek in Tessalonika was, het julle meer as een keer iets gestuur om my te help.

17. Nie dat ek ’n skenking soek nie; ek soek die resultaat daarvan: groter krediet op julle rekening!

18. Op hierdie stadium het ek alles ontvang – en meer as genoeg! Met dit wat julle saam met Epafroditus gestuur het, het ek alles wat ek nodig het. Wat julle gestuur het, is ’n lieflike reukoffer waarvan God hou.

19. Omdat Christus Jesus dit verdien het, sal my God uit sy heerlike rykdom vir julle voorsien in elke behoefte wat julle het.

20. Aan dié God, wat ook ons Vader is, behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid. Amen.

21. Dra my groete oor aan Christene daar. Al die broers en susters hier by my stuur groete.

Lees volledige hoofstuk Filippense 4