hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4

Ou Testament

Nuwe Testament

Filippense 4 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. My broers en susters, ek het julle lief en verlang baie na julle. Júlle maak my bly, ja, op júlle is ek baie trots. Geliefdes, bly dan nou regtig getrou aan die Here.

Laaste opdragte aan die

gemeente

2. Ek moedig sowel Euodia as Sintige aan om hulle meningsverskille op te los omdat hulle aan die Here verbonde is.

3. En ek vra ook dat jy, getroue kollega, hulle sal help. Hulle het hard gewerk saam met my en ook saam met Klemens en die ander medewerkers om die Goeie Nuus uit te dra. Hulle almal se name staan opgeskryf in die Boek van die Lewe.

4. Wees altyd bly omdat julle weet dat julle aan die Here behoort. Ek sê dit weer: “Wees bly!”

5. Laat almal sien hoe bedagsaam julle lewe. Onthou: Die Here kom binnekort!

6. Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen.

7. En God se vrede, wat meer is as wat ’n mens dink, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou omdat julle aan Christus Jesus verbonde is.

8. Ten slotte, broers en susters, vul julle gedagtes met alles wat waar, eerbaar, skoon, suiwer, lieflik en lofwaardig is.

9. En leef volgens alles wat julle van my geleer, oorgeneem, gehoor en gesien het. Dan sal die God wat vrede gee, by julle wees.

Paulus sê dankie vir die

Filippense se ondersteuning

10. Ek prys die Here met groot blydskap omdat julle weer ’n slag aan my kon dink. Ek weet julle het eintlik heeltyd aan my gedink, maar het net nie die geleentheid gehad om iets te doen nie.

11. Ek sê dit nie omdat ek iets kortkom nie. Ek het regtig geleer om onder alle omstandighede reg te kom.

12. Ek weet wat dit is om boomskraap te lewe, en ek weet wat dit is om oorvloed te hê. Ek het lewenservaring opgedoen vir alle omstandighede, vir wanneer ek genoeg het om te eet én wanneer ek honger is, vir oorvloed én tekort.

13. Ek kan alles doen deur Hom wat my krag gee.

14. Nietemin, julle het goedgedoen deur my in my swaarkry by te staan.

15. Julle, Filippense, weet wat in die beginjare met die uitdra van die Goeie Nuus gebeur het. Toe ek van Masedonië af vertrek het, het geen gemeente behalwe julle my finansieel ondersteun nie.

16. Selfs toe ek in Tessalonika was, het julle meer as een keer iets gestuur om my te help.

17. Nie dat ek ’n skenking soek nie; ek soek die resultaat daarvan: groter krediet op julle rekening!

18. Op hierdie stadium het ek alles ontvang – en meer as genoeg! Met dit wat julle saam met Epafroditus gestuur het, het ek alles wat ek nodig het. Wat julle gestuur het, is ’n lieflike reukoffer waarvan God hou.

19. Omdat Christus Jesus dit verdien het, sal my God uit sy heerlike rykdom vir julle voorsien in elke behoefte wat julle het.

20. Aan dié God, wat ook ons Vader is, behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid. Amen.

Groeteboodskappe

21. Dra my groete oor aan Christene daar. Al die broers en susters hier by my stuur groete.

22. Al die ander Christene stuur ook groete, in besonder dié wat in die keiser se paleis werk.

23. Mag ons Here Jesus Christus se genade julle geestelik versterk.