hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4

Ou Testament

Nuwe Testament

Filippense 1 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Hierdie brief kom van Paulus en Timoteus, diensknegte van Christus Jesus.Ons skryf aan al God se mense in Filippi, al die Christene, ouderlinge en diakens ingesluit.

die gelowiges in Filippi en stuur

’n seëngroet

2. Die genade en die vrede van God ons Vader en die Here Jesus Christus sal met julle wees.

Paulus dank God vir die

3. Elke keer as ek aan julle dink, dank ek God.

4. Ek bid altyd in al my gebede met blydskap vir julle almal

5. omdat julle, van die eerste dag wat julle die Goeie Nuus gehoor het, tot vandag toe saamgewerk het om dit verder uit te dra.

6. Ek is oortuig dat God die goeie werk wat Hy in julle begin het, sal voortsit totdat Hy dit voltooi op die dag wanneer Jesus Christus terugkom.

7. Dit is vanselfsprekend dat ek so oor julle almal voel omdat julle my na aan die hart lê. Julle almal deel saam met my in God se genade – wanneer ek in die tronk sit én wanneer ek die waarheid van die Goeie Nuus verdedig en bevestig.

8. God kan getuig hoe ek na julle almal verlang. Ek gee vir julle om met die liefdevolle deernis van Christus Jesus!

9. Ek bid dat julle liefde vir mekaar meer en meer sal word deurdat julle ’n al beter begrip en ’n fyn aanvoeling ontwikkel.

10. Dit sal julle in staat stel om dié dinge te onderskei wat regtig saak maak. Dit sal julle ook help om skoon en onberispelik te lewe tot op die dag wanneer Christus terugkom.

11. Dan sal julle hele lewe vol wees van die goeie gevolge van julle gehoorsaamheid aan die wil van God – goeie gevolge wat Jesus Christus bewerk het. God sal daarvoor geëer en geprys word!

Christus word gepreek, selfs in

die tronk

12. Julle moet weet, broers en susters, dat dit wat met my gebeur het, gelei het tot bevordering van die Goeie Nuus.

13. Dit het vir almal hier, ook vir die soldate van die paleiswag, duidelik geword dat ek in die tronk is ter wille van Christus.

14. En die meerderheid medegelowiges hier is só deur my gevangenskap in hulle vertroue in die Here versterk dat hulle dit al hoe meer waag om oor die boodskap van God te praat sonder om bang te wees.

15. Daar is wel sommige wat dit doen omdat hulle jaloers is of iets teen my het, maar daar is ook ander wat Christus met goeie bedoelings bekendmaak.

16. Hulle doen dit uit liefde omdat hulle weet dat ek hier is om die Goeie Nuus te verdedig.

17. Maar dié wat in eiebelang Christus verkondig, doen dit met onsuiwer motiewe. Hulle bedoeling is om die swaarkry van my gevangenskap nog swaarder te maak.

18. Maar wat maak dit saak? Of hulle motiewe nou onsuiwer of suiwer is – die feit is dat Christus op allerhande maniere verkondig word, en daaroor is ek baie bly! My blydskap sal ook voortduur,

Paulus se lewe vir Christus

19. want ek weet dat deur julle voorbidding en die hulp van die Gees van Jesus Christus alles op my vrylating sal uitloop.

20. Dit is my strewe en hoop dat ek nooit iets sal doen waaroor ek my sal hoef te skaam nie. Ek wil eerder, soos nog altyd, ook nou in my hele bestaan – of ek bly leef en of ek moet sterf – Christus met volle vrymoedigheid verheerlik.

21. Want vir my is die lewe Christus, en die sterwe wins.

22. As ek aanhou lewe, kan ek vrugbaar werk. Ek weet regtig nie wat om te kies nie!

23. Ek is in ’n tweestryd. Aan die een kant verlang ek om te vertrek en bý Christus te wees, want dit is vir my verreweg die beste.

24. Aan die ander kant is dit vir julle belangriker dat ek bly lewe.

25. Dit weet ek vas en seker: my blywende betrokkenheid by julle almal sal daartoe lei dat julle groei en blydskap in julle geloof sal beleef.

26. Dan, wanneer ek weer by julle is, sal julle nog meer rede hê om dit wat Christus Jesus deur my gedoen het, te besing.

’n Leefstyl wat pas by die Goeie

Nuus

27. Hoofsaak is dat julle leefstyl moet pas by die Goeie Nuus van Christus. Só sal ek dan as ek kom, sién of as ek nie kan kom nie, hóór dat julle met één gees vasstaan en soos ’n span eendragtig saamveg vir ons geloof in die evangelie.

28. Ek sal hoor dat teenstanders julle glad nie afskrik nie. Vir hulle is dit ’n bewys dat hulle verlore gaan, maar vir julle is dit ’n bewys dat God self julle red!

29. Aan julle is immers die voorreg gegee om Christus te dien, nie alleen deur in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly.

30. Julle voer dieselfde stryd wat julle my vroeër sien stry het. En soos julle gehoor het, duur my stryd nog steeds voort.