hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4

Ou Testament

Nuwe Testament

Filippense 3 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die ongelooflike wins van geloof

in Jesus Christus

1. Verder, my broers en susters, wees bly omdat julle aan die Here verbind is. Om weer hieroor vir julle te skryf maak my nie moeg nie, en vir julle gee dit duidelikheid.

2. Pas op vir daardie rondloperhonde, pas op vir daardie kwaaddoeners, pas op vir die mense van die versnydenis!

3. Ons wat God deur sy Gees dien, het mos klaar die ware besnydenis. Ons beroep ons op wat Christus Jesus gedoen het en nie op menslike dinge nie.

4. Nietemin sou ek ook op menslike dinge kon vertrou. As iemand meen om op menslike dinge te vertrou, ek nog méér!

5. Ek is op die agtste dag besny. Ek is ’n gebore Israeliet, uit die stam van Benjamin. ’n Egte Hebreër! As lid van die Fariseërs het ek streng volgens Joodse wette gelewe.

6. Ek was fanaties en het die kerk vervolg! Wat wetsgehoorsaamheid betref as metode om my saak met God reg te maak, was ek onberispelik!

7. Alhoewel ek hierdie menslike dinge eers as ’n wins beskou het, beskou ek dit ter wille van Christus nou as ’n verlies.

8. Ja, om Christus Jesus, my Here, te ken is só wonderlik dat ek alle ander dinge as ’n verlies beskou. Ter wille van Hom het ek alles as verlies afgeskryf. Ek beskou dit as gemors sodat ek Christus as wins kan verkry

9. en een met Hom kan wees. Ek probeer nie langer my saak met God regstel deur die wet te gehoorsaam nie, maar deur in Christus te glo. Deur die geloof stel God ons saak met Hom reg.

10. Op hierdie manier kan ek Christus ken en die krag beleef wat Hom laat opstaan het. Deur saam met Hom te ly kry ek deel aan sy dood

11. in die hoop dat ek die opstanding uit die dood kan beleef!

Hoe om as gelowige doelgerig te

lewe

12. Nie dat ek dit alles al bereik het, of al klaar volmaak is nie. Maar ek hou aan jaag om dit myne te maak omdat Christus Jesus my Sýne gemaak het!

13. Nee, broers en susters, ek reken self nie dat ek al is wat ek moet wees nie, maar een ding is seker: ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê.

14. Ek jaag wenpaal toe, na die hemelse prys wat God deur Christus Jesus aan my gee.

15. Almal van ons wat geestelik volwasse is, behoort hierdie doel te hê. As daar enigiets is waaroor julle anders dink, sal God ook dít vir julle duidelik maak.

16. Nietemin, laat ons aanhou loop op die pad waarmee ons tot hiertoe gekom het.

17. Ja, broers en susters, volg my voorbeeld en hou julle oë op die mense wat volgens ons voorbeeld lewe.

18. Want – ek het julle al vroeër gesê, en met groot hartseer moet ek dit nou weer sê – daar is baie wie se lewe wys dat hulle vyande van die kruis van Christus is.

19. Ewige vernietiging is hulle uiteinde, liggaamlike behoeftes is hulle god en skandelike dinge is hulle trots. Al waaraan hulle dink, is aardse dinge.

20. Ons, daarteenoor, het ons burgerskap in die hemel. Van dáár verwag ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser.

21. Hy sal ons vernederde liggame verander in liggame met goddelike heerlikheid, soos sy eie. Hiervoor sal Hy dieselfde krag gebruik as dié waarmee Hy alle dinge onder sy gesag bring.