Ou Testament

Nuwe Testament

Efesiërs 4:1-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Ek doen dus ’n beroep op julle, ek wat ’n gevangene in diens van die Here is: Leef ’n lewe wat pas by die waardigheid van die roeping waarmee julle geroep is.

2. Met totale beskeidenheid en sagmoedigheid, ja, met geduld moet julle mekaar in liefde verdra.

3. Deur in vrede met mekaar te lewe, moet julle julle daarop toelê om die eenheidsband te bewaar wat die Gees bewerk het.

4. Daar is net één Gees, net soos julle net één toekomsverwagting het op grond van julle roeping –

5. één Here, één geloof, één doop,

6. één God, ons almal se Vader;Hy heers oor almal, werk deur almal en woon in almal.

7. Maar aan elkeen van ons afsonderlik is volgens Christus se vrygewigheid ’n genadegawe gegee.

8. Daarom sê die Skrif: “Toe Hy in die hoogte opgevaar het,het Hy krygsgevangenes meegevoer en geskenke aan die mense gegee.”

9. Wat beteken “Hy het opgevaar” anders as dat Hy eers vooraf moes neergedaal het na dit wat laer is, naamlik na die aarde toe?

10. Dieselfde Persoon wat neergedaal het, is ook die Een wat opgevaar het tot ver bo die wolke- en sterrehemel sodat Hy die heelal met sy teenwoordigheid kan vul.

11. Hý het sommige as apostels gegee, ander as profete, ander as evangeliste, en ander as herders en leraars,

12. om God se mense toe te rus vir hulle dienswerk. Hulle werk is om Christus se liggaam op te bou.

13. So sal ons uiteindelik almal deur geloof en deurdat ons die Seun van God ken, ’n eenheid vorm, ’n volmaakte mens, wat aan die standaard van Christus se volmaaktheid voldoen.

14. Dan, as mense ons met slinksheid en slimstreke op verkeerde paaie wil lei, sal ons nie meer soos klein kindertjies wees nie. Ons sal nie meer omgewaai of weggewaai word deur die wind van elke ding wat hulle verkondig nie.

15. Nee, terwyl ons mekaar liefhet, sal ons by die waarheid bly en so in alle opsigte groei om soos Christus te wees. Dit werk so: Christus is die Hoof.

16. Onder leiding van die Hoof is die liggaam goed aanmekaargesit. Al die ondersteunende ligamente hou die liggaam bymekaar. Elke liggaamsdeel vervul sy bestemde funksie, en so, deur liefde te bewys, bou die liggaam homself op.

Lees volledige hoofstuk Efesiërs 4