hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6

Ou Testament

Nuwe Testament

Efesiërs 4 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die eenheid van die gemeente

1. Ek doen dus ’n beroep op julle, ek wat ’n gevangene in diens van die Here is: Leef ’n lewe wat pas by die waardigheid van die roeping waarmee julle geroep is.

2. Met totale beskeidenheid en sagmoedigheid, ja, met geduld moet julle mekaar in liefde verdra.

3. Deur in vrede met mekaar te lewe, moet julle julle daarop toelê om die eenheidsband te bewaar wat die Gees bewerk het.

4. Daar is net één Gees, net soos julle net één toekomsverwagting het op grond van julle roeping –

5. één Here, één geloof, één doop,

6. één God, ons almal se Vader;Hy heers oor almal, werk deur almal en woon in almal.

7. Maar aan elkeen van ons afsonderlik is volgens Christus se vrygewigheid ’n genadegawe gegee.

8. Daarom sê die Skrif: “Toe Hy in die hoogte opgevaar het,het Hy krygsgevangenes meegevoer en geskenke aan die mense gegee.”

9. Wat beteken “Hy het opgevaar” anders as dat Hy eers vooraf moes neergedaal het na dit wat laer is, naamlik na die aarde toe?

10. Dieselfde Persoon wat neergedaal het, is ook die Een wat opgevaar het tot ver bo die wolke- en sterrehemel sodat Hy die heelal met sy teenwoordigheid kan vul.

11. Hý het sommige as apostels gegee, ander as profete, ander as evangeliste, en ander as herders en leraars,

12. om God se mense toe te rus vir hulle dienswerk. Hulle werk is om Christus se liggaam op te bou.

13. So sal ons uiteindelik almal deur geloof en deurdat ons die Seun van God ken, ’n eenheid vorm, ’n volmaakte mens, wat aan die standaard van Christus se volmaaktheid voldoen.

14. Dan, as mense ons met slinksheid en slimstreke op verkeerde paaie wil lei, sal ons nie meer soos klein kindertjies wees nie. Ons sal nie meer omgewaai of weggewaai word deur die wind van elke ding wat hulle verkondig nie.

15. Nee, terwyl ons mekaar liefhet, sal ons by die waarheid bly en so in alle opsigte groei om soos Christus te wees. Dit werk so: Christus is die Hoof.

16. Onder leiding van die Hoof is die liggaam goed aanmekaargesit. Al die ondersteunende ligamente hou die liggaam bymekaar. Elke liggaamsdeel vervul sy bestemde funksie, en so, deur liefde te bewys, bou die liggaam homself op.

Lééf die nuwe lewe

17. Daarom sê ek met God se gesag: Moenie langer soos nie-Christene lewe nie. Wat hulle uitdink, is niksseggend;

18. hulle verstand is verduister. Omdat hulle onkundig is en onwillig is om tot bekering te kom, ken hulle nie die lewe wat God gee nie.

19. Omdat hulle nie omgee vir wat reg of verkeerd is nie, gee hulle hulleself oor aan losbandigheid, en beoefen so gretiglik elke vorm van onreinheid.

20. Maar dis nie hoe julle Christus leer ken het nie!

21. Julle het tog van Hom gehoor. Julle het tog aangaande Homonderrig ontvang volgens die waarheid wat daar by Jesus is. Julle het tog in julle eenheidsband met Jesus die waarheid geleer,

22. naamlik dat julle, wat julle vroeëre leefstyl betref, die ou, sondige mens soos vuil klere moet uittrek. Bedrieglike begeertes laat hierdie mens te gronde gaan.

23. Julle moet op ’n nuwe, geestelike manier leer dink.

24. Ja, trek die nuwe mens soos skoon klere aan, die mens wat na God se beeld geskape is: iemand wat werklik reg lewe voor God en werklik aan Hom toegewy is.

25. Daarom moet julle die leuen aflê en die waarheid teenoor mekaar praat. Ons is tog lede van dieselfde liggaam.

26. Moenie sondig as jy kwaad word nie. Moenie tot die aand toe kwaad bly,

27. en die duiwel so ’n houvas gee nie.

28. Die dief moet ophou steel en eerder hard werk. Hy moet sy eie hande vir eerlike werk gebruik sodat hy iets kan hê om met mense in nood te deel.

29. Moenie enige vuil taal gebruik nie. Gebruik eerder die regte, opbouende woorde wat nodig is om dié wat luister, te bevoordeel.

30. Ja, moenie God se Heilige Gees hartseer maak nie. In julle eenheidsband met die Heilige Gees lê julle waarborg dat julle God se verlossingsdag sal belewe.

31. Raak saam met alle ander slegte dinge ontslae van alle bitterheid, woede, wraak, geskel en gevloek.

32. Wees eerder vriendelik met mekaar. Gee vir mekaar om. Vergewe mekaar soos God julle vergewe het op grond van wat Christus gedoen het.