hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Timoteus 4 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Ek wil jou dus ernstig aanspoor voor God en voor Christus Jesus, wat die lewendes en dooies gaan oordeel wanneer Hy verskyn om sy koningsheerskappy te vestig:

2. Verkondig die woord van God. Hou daarmee vol, of die tyd daarvoor geleë is of nie. Jy moet jou mense met geduld reghelp, aanspreek en bemoedig terwyl jy hulle geduldig onderrig.

3. Want daar kom ’n tyd wanneer mense nie meer na gesonde onderrig sal luister nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en leermeesters soek wat net verkondig wat hulle graag wil hoor.

4. Hulle sal die waarheid verwerp en vreemde mites navolg.

5. Maar jy moet in elke situasie jou teenwoordigheid van gees behou. Moenie bang wees om vir die Here te ly nie. Vervul jou taak as evangelis. Voltooi die bediening wat God jou gegee het.

’n Paar persoonlike slotwoorde

6. Wat my betref, word my lewe alreeds uitgegiet as ’n offer aan God. Die tyd van my dood is op hande.

7. Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop voltooi, en ek het gelowig gebly.

8. En nou wag die prys vir my: die lourierkrans vir ’n lewe in gehoorsaamheid wat die Here, die regverdige Beoordelaar, my sal gee op die groot dag van sy terugkeer. En dié prys is nie net vir my nie, maar vir almal wat gretig uitsien na sy heerlike verskyning.

9. Doen jou bes om so gou moontlik na my toe te kom.

10. Demas het my verlaat omdat hy verlief geraak het op die dinge van hierdie lewe en toe na Tessalonika vertrek het. Kressens is weg na Galasië en Titus na Dalmasië.

11. Net Lukas is by my. Gaan haal vir Markus en bring hom saam met jou wanneer jy kom, want hy kan my behulpsaam wees.

12. Ek het Tigikus na Efese toe gestuur.

13. Wanneer jy kom, onthou om die bo-kleed wat ek by Karpus in Troas agtergelaat het, saam te bring. Bring ook my boeke, en veral my perkamente.

14. Aleksander die kopersmid het my baie skade aangedoen, maar die Here sal hom oordeel vir wat hy gedoen het.

15. Wees versigtig vir hom, want hy het alles teengestaan wat ons gesê het.

16. Toe ek die eerste keer voor die regter gebring is, was daar niemand by my nie. Almal het my verlaat. Ek hoop nie dit sal teen hulle tel nie!

17. Maar die Here het my bygestaan en my krag gegee om die Goeie Nuus in al sy volheid te verkondig sodat al die nie-Joodse nasies dit kan hoor. En Hy het my van ’n gewisse dood gered.

18. Ja, en die Here sal my verlos van enige kwaad en my veilig in sy hemelse koninkryk bring. Aan God kom die heerlikheid toe, vir ewig en ewig. Amen.

Hartlike groete; Timoteus moet

vóór die winter kom

19. Groete aan Priscilla en Akwila en Onesiforus se gesin.

20. Erastus het in Korinte agtergebly en Trofimus het ek siek in Milete agtergelaat.

21. Doen jou bes om voor die winter te kom. Eubulus stuur vir jou groete, en so ook Pudens, Linus, Claudia en al die broers en susters.

22. Mag die Here met jou gees wees. Mag God se genade met julle wees.