hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Timoteus 3 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Gedurende die laaste dae sal

baie mense ontspoor

1. Jy moet ook dít weet, Timoteus, dat daar gedurende die laaste dae moeilike tye sal kom.

2. Want mense sal net hulleself en hulle geld liefhê. Hulle sal grootpraterig en arrogant wees, met God spot, ongehoorsaam aan hulle ouers en ondankbaar wees. Hulle sal niks as heilig beskou nie.

3. Hulle sal liefdeloos en onvergewensgesind wees; hulle sal ander mense belaster en geen selfbeheersing hê nie; hulle sal wreed wees en geen belangstelling hê in wat goed is nie.

4. Hulle sal hulle vriende verraai, roekeloos wees, hooghartig, en hulle sal plesier liewer hê as vir God.

5. Hulle sal optree asof hulle godsdienstig is, maar dit ontken wat aan die Christelike godsdiens sy krag gee. Jy moet wegbly van sulke mense af.

6. Onder hulle is dié wat hulleself in mense se huise kan inwurm en die vertroue van kwesbare vroue wen wat belaai is met sondeskuld en beheer word deur baie begeertes.

7. Sulke vroue is altyd besig om nuwe leringe na te volg, maar hulle kry dit nie reg om die waarheid te begryp nie.

8. En hierdie leermeesters bestry die waarheid net soos Jannes en Jambres hulle teen Moses verset het. Hulle denke is korrup en hulle geloof is niks werd nie.

9. Maar hulle sal nie lank hiermee wegkom nie, want dit sal vir almal duidelik blyk watter dwase hulle is, net soos dit gebeur het met Jannes en Jambres.

Bly aan die Skrif getrou

10. Maar jy, Timoteus, het my onderrig getrou gevolg, hoe ek lewe en wat my doel in die lewe is. Jy ken my geloof en hoe lank ek al gely het. Jy ken my liefde en my geduld en verdraagsaamheid.

11. Jy weet hoeveel vervolging en lyding ek verduur het. Jy weet alles van hoe ek vervolg is in Antiogië, Ikonium en Listra, maar die Here het my uit alles verlos.

12. Ja, en almal wat ’n toegewyde lewe in verbondenheid aan Christus Jesus wil lei, sal vervolg word.

13. Maar bose mense en swendelaars sal voortgaan van kwaad tot erger. Hulle sal aanhou om mense te mislei, en hulle sal self mislei word.

14. Maar jý, bly getrou aan die dinge wat jy geleer het. Jy weet dit is waar, want jy weet jy kan dié vertrou wat jou geleer het.

15. Jy ken die Heilige Skrif van kindsbeen af en dit het jou die wysheid gegee om die verlossing te ontvang wat deur geloof in Christus Jesus kom.

16. Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om ons te onderrig, die verkeerde te weerlê, om ons tereg te wys en om die regte leefstyl by ons te kweek.

17. Dit is God se manier om sy mense voor te berei vir hulle taak, ten volle toegerus vir elke goeie ding wat Hy wil hê hulle moet doen.