hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3

Ou Testament

Nuwe Testament

Titus 1 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Hierdie brief kom van Paulus, ’n dienskneg van God en ’n apostel van Jesus Christus. Ek is gestuur om dié wat God gekies het, tot geloof te lei en om hulle die waarheid te leer wat hulle wys hoe om godvrugtig te lewe.

Titus en stuur ’n seëngroet

2. Hierdie waarheid gee aan hulle die vooruitsig op die ewige lewe wat God aan hulle beloof het nog voor die wêreld geskep is – en Hy kan nie lieg nie.

3. En nou, op die regte tyd, het Hy hierdie boodskap bekendgemaak, en ons verkondig dit aan almal. Dit is deur die opdrag van God ons Verlosser dat ek vertrou word om hierdie werk vir Hom te doen.

4. Hierdie brief word gerig aan Titus, my ware kind in die geloof wat ons met mekaar deel. Mag die genade en vrede van God die Vader en Christus Jesus ons Verlosser met jou wees.

Advies aan Titus en die

gemeente op Kreta

5. Ek het jou op die eiland Kreta agtergelaat om ons werk daar af te rond en om ouderlinge in elke dorp aan te stel soos ek jou beveel het.

6. ’n Ouderling moet gerespekteer wees vir sy goeie lewe. Hy moet getrou wees aan sy vrou, en sy kinders moet gelowiges wees wat nie wild of opstandig is nie.

7. As bestuurder van God se huishouding moet ’n ouderling ’n onberispelike lewe lei. Hy moenie arrogant of humeurig wees nie; hy moet hom ook nie aan drank vergryp of gewelddadig of geldgierig wees nie.

8. Hy moet gasvry wees en alles wat goed is, liefhê. Hy moet met wysheid lewe en regverdig wees. Hy moet ’n toegewyde en gedissiplineerde lewe lei.

9. Hy moet ’n sterk en standvastige geloof hê in die betroubare boodskap wat hy geleer is; dan sal hy in staat wees om ander met die gesonde onderrig te bemoedig en dié wat dit teenstaan, te wys waar hulle verkeerd is.

10. Want daar is baie wat opstandig is teen die regte onderrig; hulle is praatjiesmakers en mislei mense. Dit is veral waar van dié uit die Jodedom.

11. Hulle moet tot swye gebring word. Deur hulle verkeerde leer laat hulle hele gesinne van die waarheid afwyk – en dit vir skaamtelose winsbejag.

12. Een van hulle eie mense, ’n profeet uit Kreta, het van hulle gesê: “Die Kretensers is almal leuenaars; hulle is wilde diere en lui vrate.”

13. Dit is waar. Berispe hulle dus so streng moontlik om hulle weer gesond in die geloof te maak.

14. Hulle moet ophou om na Joodse mites en na die opdragte van mense te luister wat hulle rug op die waarheid gedraai het.

15. Enigiets is rein vir dié wie se harte rein is. Maar niks is rein vir hulle wat korrup en ongelowig is nie, want hulle gedagtes en gewetens is besoedel.

16. Sulke mense gee voor dat hulle God ken, maar hulle lewe weerspreek dit. Hulle is verwerplik en rebels, ware deugniete wat tot niks goeds in staat is nie.