Ou Testament

Nuwe Testament

2 Petrus 2:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Maar daar was ook vals profete onder die volk Israel, en so sal daar ook onder julle vals leraars kom. Hulle sal dwaalleer oor God insmokkel, en selfs draai teen hulle Eienaar wat hulle gekoop het. Hulle hoop om met hulle dwaalleer alles te vernietig, maar só bring hulle ’n skielike vernietiging oor hulleself.

2. Baie mense sal agter hulle aanloop op hulle wilde paaie, en hulle sal veroorsaak dat mense sleg praat van die enigste ware Pad.

3. In hulle gejaag na rykdom sal hulle julle uitbuit met stories wat hulle uit die duim suig. Maar hulle vonnis, waarop God lankal besluit het, wag om uitgevoer te word. Ja, hulle vernietiging wag.

4. Julle weet mos: God het selfs die engele nie gespaar toe hulle gesondig het nie. Hy het hulle na die onderwêreld toe gestuur en hulle in donker tronkselle laat hou vir die oordeel.

5. Hy het ook die wêreld van lank gelede nie gespaar nie, maar slegs vir Noag en sy gesin van sewe bewaar. Noag het gepreek oor hoe mense reg voor God moet lewe en oor hoe Hy regverdig straf. Toe het God die hele wêreld vol goddelose mense met ’n vloed vernietig.

6. Later het Hy die stede Sodom en Gomorra tot as verbrand en hulle totaal vernietig. Hy het hulle ’n voorbeeld gemaak van wat met goddelose mense gaan gebeur.

7. En tog het God vir Lot gered, ’n man wat reg voor God gelewe het. Lot was siek en sat van die wilde leefstyl van mense wat hulle aan geen wette steur nie.

8. ’n Mens kan jou dit indink: Vir iemand wat reg voor God gelewe het, moes dit ’n marteling wees om tussen hulle te bly en dag vir dag soveel van hulle gruweldade te aanskou en aan te hoor.

9. Die Here weet dus om dié mense wat naby aan Hom leef, uit beproewing en swaarkry te red, maar om dié wat ’n verkeerde lewe lei, te straf en vir die oordeelsdag te bêre.

10. Hy gaan veral húlle straf wat toegee aan die vuil begeertes van hulle natuurlike drange en wat geen respek vir gesag het nie.Hierdie leraars is uitdagend en vermetel. Hulle huiwer selfs nie om glansryke wesens te beledig nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Petrus 2