Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 3:1-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Begin ons nou al weer om onsself aan te beveel? Of benodig ons dalk, soos sommige mense, getuigskrifte aan julle of van julle?

2. Julle is tog self ons brief, geskryf op ons harte, bekend aan en gelees deur alle mense.

3. Julle toon duidelik dat julle ’n brief van Christus is, deur ons diens voorberei en geskryf, nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God, nie op kliptafels nie, maar op die tafels van menseharte.

4. Dít is die vertroue wat ons op God stel, deur die bemiddeling van Christus.

5. Nie dat ons op eie houtjie iets kan bedink asof dit ons eie breinkind is nie. Ons bekwaamheid kom van God,

6. wat ons bekwaam gemaak het om as bedienaars van die nuwe verbond op te tree, nie met die wet as inhoud nie, maar met die Gees as inhoud. Want die letter maak dood, maar die Gees maak lewend.

7. As die bediening wat tot die dood lei, en wat met letters in klip gegraveer is, soveel heerlikheid gehad het – al sou dit gou weer verdwyn – dat die kinders van Israel as gevolg van die glans op Moses se gesig nie daarna kon bly kyk nie,

8. hoeveel groter sal die heerlikheid van die bediening deur die Gees dan nie wees nie?

9. As die bediening wat oordeel meebring, dan met heerlikheid gepaardgaan, soveel te meer oortref die bediening van die vryspraak dit in heerlikheid.

10. Want wat vroeër verheerlik was, verdof totaal wanneer dit vergelyk word met die allesoortreffende huidige heerlikheid.

11. As die bediening van die ou verbond wat eintlik net tydelik was, gestraal het van heerlikheid, hoeveel meer sal die altyd blywende bediening van die nuwe verbond nie skitter van heerlikheid nie!

12. Terwyl ons só ’n verwagting koester, doen ons ons werk met groot vrymoedigheid.

13. Ons is ook nie soos Moses wat sy gesig versluier het om te verhinder dat die volk Israel sou sien dat die ligglans net tydelik was nie.

14. Hulle denke het verhard geraak. Tot vandag toe is hulle gedagtes versluier as hulle die Ou Testament lees. Daardie sluier word net eenvoudig nie verwyder nie omdat dit net Christus is wat dit geheel en al vernietig.

15. Tot vandag toe nog, elke keer as Moses voorgelees word, lê daar ’n sluier oor hulle harte.

16. Elke keer as iemand hom na die Here toe draai, verwyder Hy die sluier.

17. Die “Here” dui hier op “die Gees” en waar die Gees van die Here is, heers daar vryheid.

Lees volledige hoofstuk 2 Korintiërs 3