Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 11:6-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

6. Al is ons dalk nie opgelei in die redenaarskuns nie – wat kennis betref, staan ons geensins terug nie! Dit het ons, toe ons by julle was, by elke geleentheid duidelik laat blyk.

7. Het ek miskien ’n fout gemaak deur myself te verneder om julle gees op te hef omdat ek God se Goeie Nuus gratis aan julle gepreek het?

8. Ek het eintlik ander gemeentes beroof deur van hulle vergoeding te aanvaar om julle te bedien.

9. Toe ek by julle was en ’n tekort ondervind het, het ek vir niemand ’n las geword nie, want die broers wat van Masedonië af gekom het, het ten volle aangevul wat ek kortgekom het. Ek het my weerhou en sal my ook verder daarvan weerhou om in enige opsig vir julle ’n las te word.

10. Die waarheid van Christus leef in my. Hierdie is vir my ’n saak van trots en ek sal nie toelaat dat dit my in die omgewing van Agaje ontneem word nie.

11. Waarom nie? Omdat ek julle nie liefhet nie? God weet dat ek julle innig liefhet!

12. Wat ek doen, sal ek aanhou doen. Daarmee sal ek die aanleiding afsny van dié mense wat ’n geleentheid soek om as ons gelykes bevind te word in die saak waaroor hulle spog.

13. Want sulke mense is vals apostels; hulle is bedrieglike werkers wat voorgee dat hulle apostels van Christus is.

14. Geen wonder nie! Satan self gee immers voor dat hy ’n engel van die lig is.

15. Daarom is dit ook niks besonders dat sy diensknegte hulle voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Hulle uiteinde sal wees wat hulle volgens hulle dade verdien.

Lees volledige hoofstuk 2 Korintiërs 11