hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Tessalonisense 3 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Daarom, toe ons dit nie langer kon uithou nie, het ons besluit om alleen in Atene agter te bly

2. en Timoteus na julle toe te stuur. Hy is ons broer en werk saam met ons vir God deur die Goeie Nuus oor Christus te verkondig. Ons het hom gestuur om julle in die geloof te versterk en aan te spoor

3. sodat niemand onder dié vervolging sou begin wankel nie. Julle weet self dat ons vir vervolging bestem is.

4. Ook toe ons nog by julle was, het ons vooraf vir julle gesê dat ons op die punt staan om vervolg te word. En, soos julle weet, het dit toe ook gebeur.

5. Daarom, toe ek ook nie langer kon uithou nie, het ek Timoteus gestuur om oor julle geloof uit te vind of die verleier julle nie op ’n manier verlei het en ons harde werk op niks uitgeloop het nie.

6. Maar nou het Timoteus van julle af by ons teruggekom met goeie nuus oor julle geloof en liefde. Hy het ook vertel dat julle altyd goeie herinneringe aan ons het en dat julle net so baie na ons verlang as ons na julle.

7. Daarom, broers en susters, deur júlle geloof is ons in al ons nood en swaarkry oor julle gerusgestel.

8. Want toe dit blyk dat julle sterk staan in julle verhouding met die Here, het ons weer begin lééf!

9. Hoe kan ons God ooit genoeg vir julle dank? Wat kan ons vir Hom terugdoen vir al die vreugde oor julle waarmee ons voor ons God bly is?

10. Dag en nag vra ons ernstig om julle weer persoonlik te sien en om die tekorte van julle geloof aan te vul.

11. Mag God ons Vader en Jesus ons Here self ons pad na julle toe oopmaak.

12. En mag die Here julle liefde vir mekaar en vir alle mense so groot en oorvloedig maak dat dit net soos ons liefde vir julle sal wees.

13. Mag Hy julle geestelike lewe so sterk maak dat julle volkome in julle toewyding voor ons God en Vader sal staan wanneer ons Here Jesus kom saam met almal wat aan Hom behoort.