hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Tessalonisense 2 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Paulus herinner die

Tessalonisense aan sy

onkreukbare optrede

1. Julle weet self, broers en susters, dat ons besoek aan julle nie tevergeefs was nie.

2. Ondanks die mishandeling en beledigings wat ons, soos julle weet, vroeër in Filippi moes verduur, het ons vertroue op ons God ons moed gegee om te midde van sterk teenkanting sy Goeie Nuus aan julle te verkondig.

3. Ons prediking destyds het immers nie uit misleiding, onsuiwer motiewe of bedrog voortgevloei nie.

4. Nee, ons praat omdat God ons gekeur het. Hy het die Goeie Nuus aan ons toevertrou. Ons doel is nie om mense tevrede te stel nie, maar God. Hy ondersoek die motiewe van ons harte.

5. Julle weet dat ons nie destyds besig was met ’n gevleiery of ’n skelm geldmakery nie. God is ons getuie!

6. Ons het ook nie by mense eer gesoek nie; nie by julle nie en ook nie by ander mense nie.

7. Al kon ons as apostels van Christus allerhande eise aan julle gestel het, was ons soos babatjies teenoor julle. Of soos ’n ma wat haar eie kinders aan haar laat drink,

8. só het ons oor julle gevoel. Ons was heeltemal bereid om nie net God se Goeie Nuus met julle te deel nie, maar ook ons eie lewe, want ons het julle liefgekry.

9. Broers en susters, julle onthou mos nog hoe hard ons gewerk en geswoeg het. Terwyl ons dag en nag gewerk het om nie vir enigeen van julle ’n las te wees nie, het ons God se Goeie Nuus aan julle verkondig.

10. Julle én God is getuies van hoe toegewyd, opreg en onberispelik ons in ons optrede was teenoor julle wat glo.

11. Julle weet ook hoe ons – soos ’n pa met sy eie kinders maak – julle elkeen

12. aangespoor en aangemoedig het om tot eer van God te lewe. Hy roep julle om deel te hê aan sy koningsheerskappy en heerlikheid.

13. Verder sal ons God aanhou dank dat julle sy woord, wat julle by ons gehoor het, aangeneem het nie as mensewoorde nie, maar soos dit werklik is, as Gód se woord. Dié woord is aan die werk in julle wat glo.

14. Broers en susters, julle het navolgers geword van God se gemeentes in Judea – dit wil sê die Christene daar. Julle het net so swaar onder julle volksgenote gely as wat hulle onder die Jode gely het.

15. Die Jode het die Here Jesus en die profete doodgemaak en ons vervolg. Verder stel hulle God nie tevrede nie, ja, hulle is gekant teen alle mense

16. deur te probeer keer dat ons aan die nie-Joodse nasies vertel hoe om verlos te word. Deur dit te doen, is hulle gedurig besig om hulle sondes meer te maak. God se oordeel het egter nou uiteindelik oor hulle gekom.

Timoteus se positiewe berig oor

die gemeente

17. Broers en susters, nadat ons ’n kort rukkie van julle geskei was – wel uit die oog, maar nie uit die hart nie – het ons hard probeer om julle persoonlik weer te sien omdat ons baie na julle verlang.

18. Ons wóú dus na julle toe kom – ek, Paulus, meer as een keer – maar Satan het ons gekeer.

19. Immers, as ons met Jesus ons Here se terugkeer voor Hom moet staan, wie sal ons vooruitsig of blydskap of erekrans wees, as dit nie julle is nie?

20. Júlle is mos ons eer en ons blydskap!