hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Tessalonisense 1 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Hierdie brief kom van Paulus, Silvanus en Timoteus. Ons skryf aan die gemeente in Tessalonika wat aan God die Vader en die Here Jesus Christus behoort. Genade en vrede vir julle.

Paulus dank God vir die

die gemeente in Tessalonika en

stuur ’n seëngroet

2. Wanneer ons bid, dank ons God altyd vir almal van julle.

3. Ons onthou voortdurend hoe julle geloof dade word, hoe hard julle liefde julle laat werk en hoe julle aanhou hoop op ons Here Jesus Christus. In ons gebede noem ons hierdie dinge voor God ons Vader.

4. God het julle lief, broers en susters. Ons weet dat Hy julle uitgekies het,

5. want die Goeie Nuus wat ons gebring het, het tot julle gekom, nie net met woorde nie, maar ook deur die krag van die Heilige Gees en met groot oortuiging. Julle weet mos hoe voorbeeldig ons optrede by julle was, en dít ter wille van julle.

6. Julle het mense geword wat ons voorbeeld – en ook die Here s’n – volg, toe julle onder baie moeilike omstandighede die woord aangeneem het met ’n blydskap wat van die Heilige Gees kom.

7. Hierdeur het julle op julle beurt ’n voorbeeld vir al die gelowiges in Masedonië en Agaje geword,

8. want van julle af het die Here se boodskap nie net in Masedonië en Agaje weerklink nie, nee, óral het julle geloof in God bekend geword! Die gevolg is dat óns eintlik niks hoef te sê nie,

9. want die mense praat self oor hoe positief julle ons ontvang het en hoe julle van die afgode af weggedraai het na God toe om die lewende en ware God te dien,

10. en om sy Seun uit die hemel te verwag. Hierdie Seun is Jesus wat God uit die dood opgewek het. Dit is Hý wat ons verlos van die oordeel wat kom.