hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Tessalonisense 5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Broers en susters, dis nie nodig dat ek vir julle skryf oor die presiese dag en datum wanneer hierdie dinge gaan gebeur nie.

2. Julle weet mos self dat die Dag van die Here soos ’n dief in die nag kom.

3. Wanneer die mense nog sê: “Alles is rustig en veilig,” dan skielik, soos geboortepyne ’n swanger vrou oorval, oorval ondergang hulle. Hulle sal dit beslis nie vryspring nie.

4. Maar júlle, broers en susters, leef nie in die duisternis sodat dié dag julle soos ’n dief sal oorval nie.

5. Julle is tog almal kinders van die lig en van die dag. Ons hoort nie by die nag of die duisternis nie.

6. Laat ons daarom nie soos die ander mense aan die slaap gevang word nie. Laat ons wakker en nugter wees.

7. Dié wat slaap, slaap snags, en dié wat hulle dronk drink, drink snags.

8. Ons wat by die dag hoort, moet egter nugter bly deur geloof en liefde as ’n borsharnas aan te trek en as helm die vooruitsig op ons verlossing.

9. God se bedoeling met ons is nie dat ons gestraf moet word nie, maar dat ons deur ons Here Jesus Christus verlos word!

10. Jesus het in ons belang gesterf sodat ons, of ons nog lewe of reeds dood is, saam met Hom mag lewe.

11. Daarom, soos julle reeds doen, moet julle aanhou om mekaar moed in te praat en geestelik op te bou.

Verskillende voorskrifte

12. Broers en susters, ons vra julle om erkenning te gee aan die mense wat hard onder julle werk. Hulle is julle leiers in die Here se werk en hou julle op die regte pad.

13. Ter wille van die taak wat hulle het, moet julle met liefde baie eerbied aan hulle betoon. Leef in vrede met mekaar.

14. Broers en susters, ons druk julle dit op die hart: Wys die leeglêers tereg, praat die kleinmoediges moed in, ondersteun die swakkes, wees geduldig met almal.

15. Kyk dat niemand weerwraak neem nie, maar streef eerder altyd die goeie na – vir mekaar en vir alle mense.

16. Wees altyd vol blydskap.

17. Moenie ophou bid nie.

18. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God van julle verwag omdat julle met Christus Jesus verenig is.

19. Moenie die Gees uitblus nie.

20. Moenie profesieë geringskat nie,

21. maar ondersoek alles wat gesê word en behou wat goed is.

22. Bly weg van elke vorm van kwaad.

Paulus se groetwoord

23. Mag die God van vrede julle volkome aan Hom toewy. Ja, mag God julle so bewaar dat julle na gees, siel en liggaam volkome vlekkeloos sal wees wanneer ons Here Jesus Christus terugkom.

24. Hy wat julle roep, is getrou. Hy sál dit doen!

25. Broers en susters, bid ook vir ons.

26. Groet al die broers en susters met die soen van Christelike liefde.

27. Ek vra namens die Here dat dié brief aan al die broers en susters voorgelees sal word.

28. Mag die genade van ons Here Jesus Christus met julle wees.