Ou Testament

Nuwe Testament

1 Tessalonisense 2:2-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

2. Ondanks die mishandeling en beledigings wat ons, soos julle weet, vroeër in Filippi moes verduur, het ons vertroue op ons God ons moed gegee om te midde van sterk teenkanting sy Goeie Nuus aan julle te verkondig.

3. Ons prediking destyds het immers nie uit misleiding, onsuiwer motiewe of bedrog voortgevloei nie.

4. Nee, ons praat omdat God ons gekeur het. Hy het die Goeie Nuus aan ons toevertrou. Ons doel is nie om mense tevrede te stel nie, maar God. Hy ondersoek die motiewe van ons harte.

5. Julle weet dat ons nie destyds besig was met ’n gevleiery of ’n skelm geldmakery nie. God is ons getuie!

6. Ons het ook nie by mense eer gesoek nie; nie by julle nie en ook nie by ander mense nie.

7. Al kon ons as apostels van Christus allerhande eise aan julle gestel het, was ons soos babatjies teenoor julle. Of soos ’n ma wat haar eie kinders aan haar laat drink,

8. só het ons oor julle gevoel. Ons was heeltemal bereid om nie net God se Goeie Nuus met julle te deel nie, maar ook ons eie lewe, want ons het julle liefgekry.

9. Broers en susters, julle onthou mos nog hoe hard ons gewerk en geswoeg het. Terwyl ons dag en nag gewerk het om nie vir enigeen van julle ’n las te wees nie, het ons God se Goeie Nuus aan julle verkondig.

10. Julle én God is getuies van hoe toegewyd, opreg en onberispelik ons in ons optrede was teenoor julle wat glo.

11. Julle weet ook hoe ons – soos ’n pa met sy eie kinders maak – julle elkeen

12. aangespoor en aangemoedig het om tot eer van God te lewe. Hy roep julle om deel te hê aan sy koningsheerskappy en heerlikheid.

13. Verder sal ons God aanhou dank dat julle sy woord, wat julle by ons gehoor het, aangeneem het nie as mensewoorde nie, maar soos dit werklik is, as Gód se woord. Dié woord is aan die werk in julle wat glo.

14. Broers en susters, julle het navolgers geword van God se gemeentes in Judea – dit wil sê die Christene daar. Julle het net so swaar onder julle volksgenote gely as wat hulle onder die Jode gely het.

Lees volledige hoofstuk 1 Tessalonisense 2