Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 9:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Het ek nie net soveel vryheid as enigiemand anders nie? Is ek dan nie ’n apostel nie? Het ek dan nie Jesus ons Here met my eie oë gesien nie? Is dit nie op grond van my arbeid dat julle met Christus verbind is nie?

2. Selfs al sou ander my nie as ’n apostel beskou nie, is ek dit tog sekerlik vir julle, want julle is ’n lewende bewys dat ek ’n apostel van die Here is.

3. Hier volg my verdediging teenoor dié wat my gesag as apostel bevraagteken.

4. Het ons dan nie die reg op lewensonderhoud nie?

5. Het ons dan nie die reg om ’n mede-gelowige as eggenote saam met ons rond te neem soos die ander apostels en die Here se broers en Petrus doen nie?

6. Of is dit net ek en Barnabas wat moet werk om onsself te onderhou?

7. Watter soldaat moet ooit vir sy eie uitgawes betaal? Het julle al ooit van iemand gehoor wat ’n wingerd plant, maar hy het nie die reg om van die druiwe te eet nie? Wie pas ’n trop vee op en mag nie van die melk drink nie?

8. En dis nie ’n bloot menslike opinie nie. Sê die wet nie ook dieselfde nie?

9. In die wet van Moses staan daar tog geskrywe: “Moenie ’n os wat graan dors, verhinder om te vreet nie.” Dink julle God was net oor die osse begaan?

10. Het Hy dit nie nog eerder met die oog op ons gesê nie? Natuurlik. Want net soos arbeiders wat die lande ploeg en die graan dors, met reg ’n deel van die oes kan verwag, so behoort werkers vir die Here ook versorg te word deur dié onder wie hulle werk.

11. Ons het goeie geestelike saad onder julle gesaai. Is dit dan te veel gevra om op ons beurt stoflike versorging van julle te “oes”?

Lees volledige hoofstuk 1 Korintiërs 9