Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 2:1-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Broers en susters, toe ek destyds vir die eerste keer na julle toe gekom het, het ek nie ’n stortvloed woorde of indrukwekkende wysheid gebruik om aan julle God se groot geheim, naamlik die Goeie Nuus, te verkondig nie.

2. Want ek het besluit om as ek by julle is, net op Jesus Christus te konsentreer en veral op sy kruisdood.

3. Ek het na julle gekom in swakheid – angstig en vol huiwering.

4. My boodskap en my prediking was bitter eenvoudig. Ek het julle nie probeer oorreed deur geleerde welsprekendheid nie, maar deur die Heilige Gees wat kragtig onder julle gewerk het.

5. Dit het ek gedoen sodat julle geloof nie sou berus op menslike geleerdheid nie, maar op die krag van God.

6. Ja, wanneer ek onder geestelik volwassenes is, gebruik ek wel woorde van wysheid, maar dan ook nie die soort wysheid wat eie is aan hierdie wêreld of aan die heersers van hierdie wêreld wat self tot die verlede sal behoort nie.

7. Nee, die wysheid waarvan ons praat, is die diepsinnige wysheid van God wat voorheen geheim gehou is, wat God van ewigheid af daargestel het sodat ons die heerlikheid kan ontvang.

8. Maar die heersers van hierdie wêreld het dit nie begryp nie. As hulle dit wel begryp het, sou hulle nooit ons Here aan wie die heerlikheid behoort, gekruisig het nie.

9. Dit is wat die Skrif bedoel met die woorde:“Wat geen oog gesien het;wat geen oor gehoor het;wat in niemand se hartopgekom het nie –dit het God voorbereivir hulle wat Hom liefhet.”

Lees volledige hoofstuk 1 Korintiërs 2