Ou Testament

Nuwe Testament

1 Johannes 3:2-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

2. Geliefdes, ons is nou reeds kinders van God, maar dit is nog nie duidelik wat ons sal wees nie. Wat ons wel weet, is dat ons net soos Hy sal wees wanneer Hy verskyn. Ons sal Hom dan sien soos Hy regtig lyk.

3. Almal wat uit hierdie Christusverwagting leef, hou hulleself vlekkeloos soos Hy vlekkeloos is.

4. Elkeen wat aanhou sonde doen, doen ook wat teen die wet is, want sonde is wetteloosheid.

5. Julle weet tog dat Hy verskyn het om die sonde weg te neem en dat daar geen sonde in Hom is nie.

6. Elkeen wat in ’n hegte verhouding met Hom leef, hou nie aan sonde doen nie. Elkeen wat aanhou sonde doen, het Hom nie gesien nie en het ook nie ’n begrip van Hom nie.

7. Kinders, moenie dat iemand julle hieroor mislei nie: Elkeen wat reg leef, is regverdig, net soos Hy regverdig is.

8. Elkeen wat aanhou sonde doen, is familie van die duiwel omdat die duiwel van die heel begin af sonde gedoen het. Juis daarvoor het die Seun van God verskyn: om die dade van die duiwel te vernietig.

9. Elkeen wat deur God verwek is, hou nie aan sonde doen nie omdat God se saad in hulle bly. Hulle kan ook nie aanhou sonde doen nie omdat hulle deur God verwek is.

10. Op hierdie manier is dit duidelik wie die kinders van God en wie die kinders van die duiwel is. Almal wat nie reg optree nie en ook nie hulle medegelowiges liefhet nie, is nie uit God nie.

11. Dít is die boodskap wat ons van die heel begin af gehoor het: Ons moet mekaar liefhê.

12. Ons moet nie soos Kain optree wat uit die bose was en sy broer doodgemaak het nie. Om watter rede het hy hom doodgemaak? Omdat sy eie optrede boos was en sy broer s’n reg.

13. Broers en susters, moet nie verbaas wees as die wêreld julle haat nie.

14. Ons leef in die wete dat ons reeds uit die dood oorgegaan het in die lewe omdat ons ons broers en susters liefhet. Wie nie liefhet nie, bly eenvoudig in die dood vasgevang.

Lees volledige hoofstuk 1 Johannes 3