Ou Testament

Nuwe Testament

Yirmeyahu 48:31-46 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

31. daarom, huil oor Mo’av, oor die hele Mo’av vanaf elke plek; treur oor die manne van Kir-Heres.Yes 16:9,11

32. Meer as die gehuil vir Ya’zer sal Ek oor jou huil, o wingerd van Sivmah! Jou ranke het oor die see gestrek, hulle het tot by die see van Ya’zer gekom; die verwoester het jou somervrugte en jou druiwe-oes oorval.

33. Vreugde en blydskap is weggevat uit die vrugbare veld, uit die land van Mo’av en Ek het die wyn uit die parskuipe laat opraak; niemand sal hulle trap met uitroepe nie; die uitroepe sal nie uitroepe van vreugde wees nie.

34. Vanaf die uitroep by Heshbon tot by El’aleh, tot by Yagatz het hulle hul stem opgelig; vanaf Tzo’ar tot by Horonayim en Eglat-Shlishiyah, want selfs die waters van Nimrim sal ’n verlatenheid word.

35. Ek sal in Mo’av ’n einde maak,” verklaar יהוה, “aan die een wat op die hoë plekke offer en wierook brand vir sy gode;Yes 16:11

36. daarom huil My binneste oor Mo’av soos fluite; My binneste huil ook oor die manne van Kir-Heres soos fluite; daarom het hulle die oorvloed wat dit voortbring verloor,Yes 15:2-3

37. want elke kop is kaal en elke baard is kort geskeer; daar is snye op al die hande en rouklere om die heupe.

38. Op al die dakke van Mo’av en oral in sy strate is rouklag, want Ek het Mo’av stukkend gebreek soos ’n onbegeerlike houer,” verklaar יהוה.

39. “Hoe stukkend gebreek is dit! Hulle het gehuil. Hoe het Mo’av sy rug gedraai; hy is skaam! So sal Mo’av vir almal wat rondom hom is, ’n bespotting en ’n voorwerp van verskrikking word,”

40. want so sê יהוה: “Let op, een sal vlieg soos ’n arend en sy vlerke teen Mo’av uitsprei.

41. Die stede is ingeneem en die vestings is verower; so sal die binneste van die magtige manne van Mo’av op dié dag wees soos die binneste van ’n vrou in kraam.

42. Mo’av sal vernietig word sodat hy geen volk meer is nie omdat hy arrogant geword het teen יהוה.

43. Verskrikking, die put en die strik kom oor jou, o inwoner van Mo’av,” verklaar יהוה.

44. “Die een wat vlug vir die verskrikking sal in die put val en hy wat opklim uit die put uit, sal gevang word in die strik, want Ek sal oor haar, oor Mo’av, die jaar van hulle straf bring,” verklaar יהוה.

45. “In die skadu van Heshbon staan die vlugtelinge sonder krag, want ’n vuur het uitgegaan uit Heshbon en ’n vlam vanuit Sigon en dit het die voorkop van Mo’av en die skedel van die oproermakers verteer.

46. Wee jou, Mo’av! Die mense van K’mosh is dood, want jou seuns is weggevat as gevangenes en jou dogters in gevangeskap.

Lees volledige hoofstuk Yirmeyahu 48